Egskeiding: ‘n Hofbevel wat moet keer dat bates verdwyn.
“Love is grand. Divorce is a hundred grand.” (Anoniem)
In die hitte van die stryd van die egskeidingshof, is dit algemeen om beskuldigings en teenbeskuldigings aan te hoor van die een gade wat oor huweliksbates beskik of dit wegsteek om dit van die ander gade af weg te hou.
Ons regstelsel bied wel doeltreffende maniere om jouself in so 'n situasie te beskerm - maar die onus rus op jou om jou saak te bewys. Die uitslag van 'n onlangse hofsaak hieroor in die Appèlhof bied vir ons 'n goeie voorbeeld.
"Jy kan mos nie dit will doen nie!"
- 'n Egpaar van Northwold was buite gemeenskap van goed met mekaar getroud, met die insluiting van die aanwasbedeling. Ongelukkig het hul huwelik na 27 jaar verbrokkel en tot ‘n einde gekom. Hulle is wettig van mekaar geskei, maar die verdeling van die bates en vasstelling van die aanwas ingevolge die aanwasbedeling is by ooreenkoms uitgestel vir latere vasstelling.
- Twee jaar na die egskeiding het die man sy onroerende eiendom verkoop sonder om sy gewese vrou hiervan in te lig. Sy het met sukses in die hooggeregshof aansoek gedoen vir 'n bevel om haar gewese man te keer om die bates weg te maak, met die doel om haar eis vir aanwas te frustreer. Die hooggeregshof het die oordragprokureurs beveel om die opbrengs van die eiendom se verkoping in 'n rentedraende rekening te hou totdat die partye en die hof die berekening en toedeling van die aanwasvoordele afgehandel het.
- Die gewese man, werkloos op die ouderdom van 64 jaar, wat sy skuld met die opbrengs van die eiendomsverkoping van R1,6 miljoen moes vereffen, het by die Appèlhof appèl aangeteken.
- Die Appèlhof het die vrou se bestaande interdik van die hand gewys. Die hof bevind dat dit vir die gewese vrou as die applikant was om te bewys dat haar gewese man “opsetlik bates wou wegmaak of wegsteek, of dit waarskynlik sou doen met die doel om haar eis om aanwas te frustreer.”
- Die Appèlhof het bevind dat die gewese vrou geen bewyse gelewer het dat haar gewese man sy huis verkoop het met die doel om haar eis vir aanwas te frustreer nie. Hy het sy behoefte aan fondse verduidelik om sy skuld te betaal en daar was geen bewering dat hy in kwade trou opgetree het nie.
- Die gewese vrou het aangevoer dat, omdat hierdie 'n dispuut oor huwelikskwessies - eerder as oor kommersiële kwessies was, was daar sondermeer "buitengewone omstandighede" ter sprake. Dit sou haar dan kwansuis vrystel van die gewone bewysvereiste dat sy bykomend sou moes bewys dat hy van voorneme was om haar eis vir aanwas te frustreer. Die Appèlhof het nie hierdie argument aanvaar nie. “Om as uitsonderlik te kwalifiseer”, het die Hof gesê, “moet die omstandighede buitengewoon wees en van 'n ongewone aard wees, iets wat uitgesluit moet word in die sin dat die algemene reël nie daarop van toepassing is nie; iets wat buitengewoon, skaars of anders is.” Dit was nie genoeg om net te sê dat sy ingevolge die aanwasbedeling met hom getroud was en dat sy 'n eis vir aanwas teen sy bates gehad het nie.
- Die Appèlhof het die interdik gevolglik ter syde gestel. Die gewese man verkry dus wel toegang tot die opbrengs van die eiendomsverkooptransaksie (met hierdie bedrag wat steeds in die finale aanwasberekeninge van die partye in ag geneem moet word).
Die bedoeling en voorneme is hier belangrik.
Die gewese vrou se aansoek het hier misluk omdat sy nie kon bewys dat haar gewese man sy eiendom verkoop het met "die bedoeling om [haar] eis vir aanwas te frustreer” nie. As jy 'n soortgelyke aansoek wil bring met ‘n beter resultaat (en as jy nie buitengewone omstandighede kan bewys nie) sal jy oortuigende bewyse aan die hof moet voorhou dat jou gade of gewese gade opsetlik bates wegsteek of wegmaak, of waarskynlik sal doen, met die opset om jou regmatige eis te frustreer.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.