Dit is winter met toenemende gevalle van siekteverlof – kan jy ‘n dokter se mediese sertifikaat verwerp?
“Baie mense, insluitende werkers in Suid-Afrika, is nie in staat om te onderskei tussen 'n gekwalifiseerde dokter, 'n ongekwalifiseerde dokter of een wat onwettig praktiseer nie. Daarom is daar regulatoriese- en wetstoepassingsliggame by wie verdagte praktyke deur dokters aangemeld moet word.” (Vertaalde uittreksel uit die uitspraak hieronder.)
Ons is in die middel van die winter en baie werkgewers gaan gebuk onder hoë vlakke van afwesigheid. Daar is geen probleem met personeellede wat werklik siek is en wat by die huis bly om te herstel nie - niemand wil hê dat hulle hul kieme by die werkplek versprei of hul gesondheid ‘n verdere knou toedien nie. Hoe moet jy dit hanteer as jy vermoed dat sommige personeellede net maak asof hulle siek is?
Wanneer kan jy as werkgewer aandring op 'n mediese sertifikaat?
Ingevolge die relevante bepalings van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes:
- Jy kan 'n mediese sertifikaat vereis van enige werknemer wat vir meer as twee opeenvolgende dae by die werk afwesig is; of wat meer as twee keer in 'n tydperk van agt weke by die werk afwesig is.
- Die mediese sertifikaat moet dit duidelik stel "dat die werknemer weens siekte of besering nie vir die duur van die werknemer se afwesigheid kan of kon werk nie."
- "Die mediese sertifikaat moet uitgereik en onderteken word deur 'n mediese praktisyn of enige ander persoon wat gesertifiseer is om pasiënte te diagnoseer en te behandel en wat geregistreer is by 'n professionele raad wat deur 'n Wet van die Parlement ingestel is."
Wat kan jy doen as jy vermoed dat 'n mediese sertifikaat gekoop of vervals is? Kom ons kyk na 'n onlangse beslissing van die Arbeidsappèlhof wat 'n tydige waarskuwing aan werkgewers gerig het om nie sertifikate sonder goeie rede te verwerp nie.
Ontslaan vir verdagte mediese sertifikate.
- ‘n Werknemer van ‘n winkel in Witbank is afgedank nadat sy aan wangedrag skuldig bevind is. Sy het twee mediese sertifikate op oneerlike wyse voorgelê ter ondersteuning van haar siekteverlofafwesighede; hierdeur het sy haar werkgewer se beleide, prosedures en eerlikheidskode oortree.
- Ons hanteer die werkgewer se redes vir sy vermoedens oor die mediese sertifikate hierna, maar die werknemer het haar ontslag op appél geneem. Beide die Arbeidshof en die Arbeidsappèlhof het die ontslag as substantief onbillik bevind.
Hoekom het hierdie howe tot hierdie gevolgtrekking gekom?
Sterk vermoedens, is nie genoeg nie ...
Die sertifikate is met ‘n tussenpose van twee jaar uitgereik. Die werkgewer het die dokter se sertifikate oor ‘n verskeidenheid van redes met agterdog bejeën, insluitende:
- 'n E-pos wat die winkel gewaarsku het om versigtig te wees met mediese sertifikate wat deur hierdie spesifieke dokter uitgereik word.
- Klaarblyklik teenstrydige antwoorde wat die werknemer gegee het toe sy oor die mediese sertifikate uitgevra is, waarvan een deur 'n verpleegassistent en die ander deur die dokter uitgereik is.
- Ondersoeke na die dokter en sy praktyk. Twee van die werkgewer se bestuurders het die dokter se spreekkamers besoek. Hulle was nie oortuig dat die dokter 'n regte dokter was nie en hulle het vermoed dat hy dalk valse mediese sertifikate uitgereik en verkoop het op grond van hul volgende waarnemings:
- Dit het nie vir hulle soos 'n dokterspreekkamer gelyk nie, met stukkende gimnasiumtoerusting, verweerde gordyne, geskeurde plakkate en slegs 'n tydelike afskortingsmuur tussen 'n ontvangsarea en 'n spreekkamer. Die spreekkamer was boonop gevul met 'n slordige tafel vol papiere, borde, koppies en 'n ou rekenaarmonitor. Hulle het ook geen lêers of liasseerkabinette gesien nie, net afskrifte van mediese sertifikate en 'n stempel.
- By die spreekkamer het niemand vir hulle die gewone vrae gevra of hulle met kontant gaan betaal en of hul mediese fonds gaan betaal nie. “Pasiënte” sou ook in minder as 'n minuut uit die spreekkamer uitstap met hul gestempelde mediese sertifikate in die hand. Die bestuurders was onder die indruk dat hierdie mediese sertifikate by die dokter se assistente gekoop is.
- Die dokter het ook nie vir die bestuurders soos 'n dokter gelyk nie. Hy het nie 'n mediese oorjas gedra nie en hy het ook nie 'n stetoskoop gehad nie. Volgens die bestuurders was sy voorkoms onhigiënies en het hy "lang naels" gehad.
- Dit het nie vir hulle soos 'n dokterspreekkamer gelyk nie, met stukkende gimnasiumtoerusting, verweerde gordyne, geskeurde plakkate en slegs 'n tydelike afskortingsmuur tussen 'n ontvangsarea en 'n spreekkamer. Die spreekkamer was boonop gevul met 'n slordige tafel vol papiere, borde, koppies en 'n ou rekenaarmonitor. Hulle het ook geen lêers of liasseerkabinette gesien nie, net afskrifte van mediese sertifikate en 'n stempel.
Een van die bestuurders het getuig dat die dokter en sy assistent in hegtenis geneem is vir die onwettige uitvoering van operasies en reseptering van medisyne en vir die uitreiking van onwettige mediese sertifikate. Hierdie blyk sterk gronde te wees vir die werkgewer om uiters agterdogtig teenoor die spesiefieke mediese praktyk te wees. In hierdie spesifieke geval was dit egter nie voldoende rede vir die werkgewer om die mediese sertifikate te verwerp nie.
Hoekom het die werkgewer hierdie saak verloor?
- Die werkgewer het nie daarin geslaag om sy wantroue oor die egtheid van die dokter of van die mediese sertifikate te bewys nie. Die dokter het getuig dat hy nie net volledig by die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe geregistreer is nie, hy het ook 'n indrukwekkende lys internasionale kwalifikasies behaal en hy het ook oor jare se mediese ondervinding beskik.
- Die hof maak ook die volgende belangrike opmerkings, soos vertaal. “Daar kan seker nie van gewone mense, insluitend werkers verwag word om 'n ondersoek te doen na watter dokter gekwalifiseerd is, watter een geskors is en watter een om een of ander rede nie geregtig is om as dokter te praktiseer nie. Dit is die uitsluitlike funksie van die regulerende liggame.”
- Volgens die hof was die getuienis dat daar moontlik “sekere ongewenste gebeure in die bestuur van die mediese praktyk was”, irrelevant vir die sleutelvraag of die mediese sertifikate onreëlmatig aangevra en uitgereik is.
As 'n werkgewer, moet jy versigtig wees met mediese sertifikate wat onduidelik voorkom. Jy sal meer as net ‘n sterk vermoede moet hê om die mediese sertifikaat te kan verwerp. Kontak ons as jy nie seker is wat jy moet doen nie.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.