Die motorhuisdeur wat die moeilikheid veroorsaak het.
“Goeie heinings sorg vir goeie bure.” (Robert Frost)
Wanneer jy eiendom in 'n gemeenskapskema (soos in 'n sekuriteitslandgoed, behuisingskompleks of woonstelblok) koop, word jy outomaties lid van die gemeenskaplike bestuursliggaam. Dit is 'n huiseienaarsvereniging as jou eiendom op jou eie erf met voltitel is, of 'n regspersoon as jou eiendom deel is van 'n deeltitelskema.
Jy word outomaties gebind deur die reëls en regulasies van die bestuursliggaam, so maak seker dat jy dit ten volle verstaan, voordat jy eiendom daar koop. Die reëls en regulasies is daar om almal se veiligheid, lewensgehalte en eiendomswaarde te verseker en al die eienaars is daaraan gebonde. Natuurlik het jy as eienaar en lid ook inspraak in die formulering en wysiging van die reëls. Sodra die reëls in plek is, moet jy as eienaar daaraan voldoen.
'n Onlangse uitspraak van die hooggeregshof bevestig dat die reëls en regulasies van die bestuursliggaam wel konsekwent en redelik toegepas moet word.
"Verwyder daardie motorhuisdeur, dit is nooit goedgekeur nie!"
In hierdie saak het ’n huiseienaar in Randburg die landgoed se huiseienaarsvereniging hof toe geneem oor hul beswaar teen sy blink motorhuisdeur:
- Die huiseienaarsvereniging se hoofdoelwitte is “...om die gemeenskaplike belange, veiligheid en welsyn van die lede van die vereniging te beskerm en te bevorder. Hierdie doelwitte sluit in, maar is nie beperk nie tot, die instandhouding van die landgoed se oop ruimtes, die beheer van die estetiese voorkoms van die eiendomme, insluitend die landskap, geboue en algemene verbeterings. Een van die argitektoniese reëls en riglyne het spesifiek vereis dat huiseienaars eers goedkeuring moet verkry, voordat hul motorhuisdeure met enige afwerking anders as hout, gaan installeer.
- Hierdie huiseienaar het 'n motorhuisdeur met 'n "spieëlafwerking" geïnstalleer, sonder om toestemming daarvoor te vra. Die huiseienaarsvereniging het sy daaropvolgende aansoek om goedkeuring van die hand gewys en vereis dat hy die deur moet verwyder.
- Die huiseienaar het geweier en die dispuut is na die Ombuddiens vir Gemeenskapskemas verwys - die aangeleentheid is spesifiek vir arbitrasie verwys. Die arbiter het die huiseienaarsvereniging se verwyderingsbevel gehandhaaf. Die huiseienaar, wat duidelik anders gevoel het oor sy spoggerige deur, wou nie nee vir 'n antwoord aanvaar nie.
- Die hooggeregshof het die besluit van die Ombuddiens vir Gemeenskapskemas op appèl omgekeer. Dit het geblyk uit die foto's wat die eienaar voorgelê het dat die huiseienaarsvereniging wel voorheen vir ander eienaars toegelaat het om motorhuisdeure met spieëls of met glas in toe te laat. Die huiseienaarsvereniging kon niks uitlig of aanvoer om hierdie oënskynlike teenstrydighede te weerspreek of te verduidelik nie. Volgens die hof moes dit “die arbiter tot die gevolgtrekking gelei het dat die huiseienaarsvereniging inkonsekwent opgetree het, en dus onredelik opgetree het, deur die motorhuisdeur se verwydering te gelas.”
Wat was die gevolg hiervan?
Die huiseienaar kan sy motorhuisdeur met die "spieëlafwerking" behou, terwyl huiseienaarsverenigings en regspersone hieruit ‘n belangrike les moet leer - pas jul reëls en regulasies altyd regverdig, redelik en konsekwent toe.
Onthou dat jou prokureur kan help as jy onseker is oor enigiets!
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.