Januarie is “Egskeidingsmaand”: Wees bedag op die gevare om dit self te doen.
“What’s the only thing divorce proves? Whose mother was right in the first place” (Anoniem)
Die feesseisoen is verby, die rekeninge kom ingerol, en die meeste van ons moet na die regte lewe en normale roetine terugkeer. Mense wat gewoonlik slegs ‘n paar uur elke dag saam is, was nou vir weke lank weer hele dae bymekaar. Daardie dinge wat pla, raak erger; daardie irritasies raak groter; die uitgebreide familie kom kuier en die humeure raak korter.
Wat ookal die redes daarvoor, die wêreldwye fenomeen van Januarie as die Egskeidingsmaand, geld ook in Suid-Afrika. Die persoonlike en regsrisiko’s rondom egskeidings verhoog dramaties in Januarie.
Aan regskant is dit altyd gevaarlik as die partye sou besluit om hul egskeiding direk tussen hulle as onbestrede af te handel. Dan wil hulle dit self doen en onderling afhandel. Wees maar versigtig, dit is altyd ‘n ingrypende proses om te skei.
Die gevare van ‘n doen dit self egskeiding
Met ‘n egskeiding het ons met praktiese sowel as regskwessies te make. Foute wat hier gemaak word, kan die partye, hul kinders en ook hul uitgebreide families lewenslank beïnvloed.
‘n Doen dit self egskeiding klink dalk vinnig en maklik en goedkoop. Toegepaste regsadvies en hulp met die regte prosesse is egter van kardinale belang. In gevalle waar die partye grootliks op dieselfde bladsy is rakende ‘n egskeiding, behoort jy regsadvies teen ‘n billike koste te verkry. Sonder die regte advies, kan ‘n egskeiding op die lang duur julle duur te staan kom, as julle na die tyd die foute wil probeer regmaak.
Gaan sien jou prokureur. Hierdie is maar van die belangrike aspekte wat die partye tydens die egskeiding moet hanteer.
- Formaliteite: Daar is formaliteite wat nagekom moet word. Dagvaarding moet opgestel word, uitreiking by die hof volg, afgee by die balju, reëlings met balju, betekening deur die balju, partye onderhandel, skikking kan uiteindelik bereik word en op skrif gestel word. Die partye moet die Skikkingsakte onderteken; die Gesinsadvokaat moet tevrede wees as daar minderjarige kinders is, dan word die saak in die Hooggeregsof of in die Streekshof op die rol geplaas om afgehandel te word. Die eiser moet ook in die hof verskyn om die egskeiding af te handel.
- Skikkingsakte: Die partye sal uiteindelik hul reëlings rakende kinders, onderhoud en verdeling van bates en aansprake oor aanwas in ‘n skikkingsakte ooreenkom. Dit moet dan ‘n hofbevel gemaak word met dieselfde uitwerking as ‘n afdwingbare vonnis. Alle belangrike aspekte moet duidelik en ondubbelsinnig in die ooreenkoms uiteengesit word. As iets hier gemis word, kan dit later al die betrokke partye se lewens bemoeilik.
- Kinders: Die weerbaarste partye met ‘n egskeiding is natuurlik die kinders. Ons howe wil duidelikheid hê oor die reëlings met kinders. Die ouers se verantwoordelikhede en regte, versorging en kontak, voogskap, onderhoud, mediese planne, ouerskapsplanne en aanstelling van fasiliteerders moet in so ‘n skikkingsakte volledig hanteer en ooreengekom word.
- Onderhoud: Afgesien van onderhoud van kinders, kan een party ook ‘n eis vir onderhoud teen sy of haar gade hê. Dit kan vir ‘n interim periode van ‘n paar maande wees, of vir jare of vir lewenslank.
- Finansiële implikasies en die verdeling van bates: Indien waardevolle bates ter sprake is – soos ‘n huis of ‘n pensioenbelang – moet die partye ooreenkom oor ‘n verdeling. Hoe gaan die oordragte werk, wie gaan vir wat betaal, wie gaan die verband betaal? Die partye se Voorhuwelikse ooreenkoms of HVK is hier van bepalende belang, die huweliksregime, asook ander belangrike faktore kom hier ter sprake.
‘n Laaste gedagte oor die kostes van ‘n egskeiding.…
Indien julle wel onder finansiële druk is met die kostes van ‘n egskeiding, praat met jou prokureur oor wyses om hierdie kostes te verminder.
Provided by Anthony Whatmore & Company
© DotNews. All Rights Reserved.