Nuwe beslissing oor egskeidings en die verdeling van bates: hoe dit jou kan raak.
“…the inequality at hand is caused when, after the conclusion of the marriage, a distortion is caused by the fact that one spouse contributes directly or indirectly to the other's maintenance or the increase of the other's estate without any quid pro quo.” (Uit hierdie uitspraak geneem.)
Jy het dalk al gelees van die onlangse beslissing van die hooggeregshof wat 'n belangrike artikel van die Egskeidingswet ongeldig verklaar het.
Kom ons begin met die gebruiklike opsomming van die verskillende huweliksbedelings in Suid-Afrika.
'n Opsomming - jou drie keuses as dit kom by huweliksbedelings in Suid-Afrika
- Jy kan in gemeenskap van goedere trou: Die huwelikspartye se bates en laste word in een “gesamentlike boedel saamgevoeg”. Elkeen van julle het 'n onverdeelde halwe aandeel in die gesamentlike boedel. By egskeiding of dood word die gemeenskaplike boedel (insluitend enige wins of verlies) gelykop tussen julle verdeel, ongeag wat elkeen van julle in die huwelik ingebring het of na huweliksluiting bygedra het.
Dit is ook die verstekposisie, wat beteken dat julle outomaties in gemeenskap van goedere getroud sal wees, tensy julle voor die huwelik ‘n Huwelikskontrak sluit.
‘n Huwelikskontrak moet ook voor die huweliksluiting notarieel verly word en moet binne drie maande na verlyding in die toepaslike Aktekantoor geregistreer word.
- Jy kan kies om kontraktueel buite gemeenskap van goedere te trou, met die uitsluiting van die aanwasbedeling: Jou eie bates en laste, dit wat jy in die huwelik inbring asook dit wat jy gedurende die huwelik opbou, bly dan uitsluitlik joune om mee te doen soos jy wil. Let daarop dat die aanwasbedeling (sien opsie 3 hieronder) op julle ooreenkoms van toepassing sal wees tensy jou Huwelikskontrak (HVK) dit spesifiek uitsluit.
- Jy kan kies om kontraktueel buite gemeenskap van goedere te trou, met die insluiting van die aanwasbedeling: Soos met die vorige opsie, bly jou eie bates en laste joune om na jou eie goeddunke mee te handel, in die tyd wat die huwelik bestaan. As die huwelik tot ‘n einde kom, hetsy by wyse van egskeiding of met die dood van jou huweliksmaat, deel julle dan gelyk in die “aanwas” (groei) van julle onderskeie bates (met enkele uitsonderings), wat tydens die huwelik opgebou is.
As julle op die punt staan om te trou, is dit belangrik vir die voorgenome huwelikspartye om volledige advies te verkry (selfs afsonderlike advies indien wenslik) oor watter van hierdie opsies die beste vir julle situasie sal wees, voordat julle in die huwelik tree. Doen julle voorbereiding en oorweeg die verskillende opsies lank genoeg voor die tyd, sodat julle rustig die regte besluit kan neem.
Ons kyk vervolgens na die onderwerp van egskeiding.
Kan hierdie nuwe uitspraak dalk op jou huwelik van toepassing wees?
Hierdie uitspraak is op 11 Mei 2022 gelewer. Dit is gevolglik nie op jou van toepassing as jou huwelik reeds voor die uitspraak (11 Mei 2022) deur dood of egskeiding beëindig is nie.
Dit mag wel op jou van toepassing wees, as –
- Jou huwelik nog bestaan, en
- Jy Opsie 2 hierbo gekies het, met ander woorde as jy buite gemeenskap van goedere getroud is met die uitdruklike uitsluiting van die aanwasbedeling, en
- Julle huwelik is ná 1 November 1984 gesluit. Waarom daardie afsnydatum in 1984? Die nuwe "Wet op Huweliksgoedere" het op 1 November 1984 in werking getree. Waar ‘n huwelik voor daardie datum gesluit is, het die howe 'n diskresie gehad om 'n "herverdelingsbevel" te maak om bates tussen die huwelikspartye wat skei, te verdeel. Tot nou toe het ons howe egter nie so 'n diskresie gehad vir huwelike wat na die afsnydatum gesluit is nie. Dit is die kern waaroor hierdie Hooggeregshofsaak gehandel het.
Die grondwetlike ongeldigheid
Daardie tydgrens (die afsnypunt van 1 November 1984) word deur ‘n artikel van die Wet op Egskeiding bepaal. Die Hof het bevind dat daardie bepaling ongrondwetlik is, omdat dit teen huwelikspartye onderskei of diskrimineer uitsluitlik op grond van die datum van hul huwelik.
Die bepaling ontneem paartjies wat na die afsnydatum getroud is van die geleentheid om ‘n hof vir ‘n verdelingsbevel te nader . Met so ‘n bevel sou hulle kan deel in die voordele wat tydens die huwelik saam opgebou is, gebaseer op hul onderskeie bydraes (direk en indirek) “tot die ander se onderhoud en boedelgroei tydens die bestaan van die huwelik”. In die praktyk (tot nou toe), kon 'n gade vir dekades lank tot die huwelik en tot die ander gade se welstand bygedra het; net om uiteindelik met leë hande weg te stap wanneer die huwelik tot ‘n einde kom.
Die Hof se bevinding dat die artikel ongrondwetlik is (hierdie bevinding moet nog deur die Grondwetlike Hof bekragtig word), het die posisie drasties verander.
Die praktiese effek van die uitspraak
- Howe het nou 'n baie wye diskresie om 'n "herverdeling" van bates tussen jou en jou gade, asook die oordrag van bates en geld van een gade na 'n ander te beveel, ongeag die bepalings van jou Huweliksvoorwaardekontrak (“HVK”, of “ANC” in Engels).
- Dit gee jou die reg om te eis dat jy vir jou bydraes tot die huwelik billik vergoed moet word. Met ander woorde, jy kan jou billike deel van die welvaart wat tydens jul huwelik opgebou is, eis. (Bates wat deur die partye in die huwelik ingebring word, word nie deur die bevel geraak nie.) Jy sal jou saak moet kan bewys, jy sal moet bewys wat jy bygedra het gedurende die huwelik en jy sal die hof moet oortuig dat 'n herverdeling in jou guns, in julle spesifieke geval billik en regverdig is.
- Die praktiese effek van so ’n herverdelingsbevel “is dat die party wat tot die ander se materiële gewin bygedra het, vir sy bydrae vergoed word in die mate wat ’n hof dit regverdig en billik bevind. Vir hierdie doel, is die hof met 'n wye diskresie beklee, en die hof kan 'n oneindige hoeveelheid faktore in ag neem. Ons kan aanvaar dat die volgende faktore waarskynlik in ag geneem sal word: elke gade se onderskeie bydraes van tyd, dienste en besparing van uitgawes, elke gade se huidige finansiële posisie, die oorspronklike bepalings wat in die HVK ooreengekom is, en so aan – elke geval sal anders wees.
- Let daarop dat dit onderskei moet word van die aanwasbedeling wat as Opsie 3 hierbo hanteer word. Waar die aanwas by ooreenkoms ingesluit is, het die gade wie se boedel minder tydens die huwelik gegroei het (met ander woorde, minder aanwas getoon het) 'n outomatiese en ooreengekome aanspraak teen die ander gade vir die helfte van die verskil in groei. Met ‘n “herverdelingsbevel”, in teenstelling, gebeur niks outomaties of 50/50 nie – hier moet die hof die situasie ondersoek en die hof oefen dan ‘n diskresie uit oor wat (indien enigiets) om aan welke huweliksparty toe te ken.
Die doel met die voorgenome ingryping van die hof se kant af is nie om die gades in gelyke finansiële posisie te plaas nie. Die doel is om 'n onbillike finansiële wanbalans reg te stel.
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.