Airbnb Eienaars en Kopers – moet die nuwe Regulasies jou Bekommer?
“While travel on our platform accounts for less than 1 in 8 visitors to South Africa, those guests boosted the economy by R8.7 billion and helped create 22,000 jobs last year alone.” and “Regulation is a useful and necessary tool of good policy, but policy comes first. Sadly, the current wording of the draft Bill is very vague and unclear. It indicates the creation of specific regulatory approaches without any explanation of what they are trying to encourage or solve.” (Airbnb)
Daar is geen twyfel hieroor nie - Airbnb kan ‘n heel winsgewende bedryf wees vir diegene wat die regte eiendom op die regte plek en in die regte area besit – of aankoop.
Maak net seker dat jy aan al die munisipale soneringsregulasies en ander voorskrifte voldoen (indien jy in ‘n gemeenskapsbehuisingskema is). Jy moet ook aan alle bykomende vereistes van die betrokke Regspersone of Huiseienaarsverenigings voldoen. Daar is natuurlik ‘n versameling van regs-, belasting-, finansiële en praktiese aspekte wat oorweeg moet word. Behoorlike regsadvies (en ‘n korttermyn verhuringskontrak, aangepas om in jou spesifieke behoeftes te voorsien) sal handig te pas kom. Dit sal ook help om te verseker dat jy die meeste uit jou belegging verkry.
‘n Nuwe aspek wat nou in gedagte gehou moet word, is die regering se voorgestelde regulering van korttermynverhuringskemas, soos Airbnb en die platform waarop Airbnb besprekings gemaak kan word. Nuus van die voorgestelde wetgewing het reeds aan bestaande sowel as voorgenome Airbnb eienaars koue rillings gegee.
Is daar dan rede om bekommerd te wees? Dit is nog heeltemal te gou om seker te wees hieroor, maar die aanduidings is dat ons versigtig optimisties kan wees. Kom ons begin deur te kyk na die verwikkelinge tot dusver.
Hier is die feite tot op hede
- Die regering se bedoeling is duidelik – hulle wil korttermynverhuring van behuising reguleer. Die rede hiervoor, volgens die regering, is die persepsie dat sulke verhuring die toerismebedryf benadeel. Soortgelyk aan ander digitale ontwrigters – dink byvoorbeeld aan Uber – het Airbnb nou ook ‘n jakkals in die hoenderhok gegooi. Ons beleef nou die nagevolge daarvan.
- Die voorstel is vervat in die (konsep) Wysigingswet op Toerisme, wat op 15 April 2019 gepubliseer is. ‘n Tydperk van 60 dae is aanvanklik toegelaat vir kommentaar vanaf die publiek; hierdie datum is intussen tot 15 Julie aangeskuif. Die Wetsontwerp maak voorsiening vir die “vasstelling van drempels (“threshholds”) ten opsigte van korttermynhuisverhuring”.
- Die relevante nuwe definisie wat in die Wetsontwerp vervat is, lui as volg: “’korttermynhuisverhuring beteken die huur of verhuring op ‘n tydelike basis, teen vergoeding, van ‘n woning of ‘n deel daarvan, aan ‘n besoeker”.
- Volgens die media het die reaksie van belanghebbendes gewissel van sterk ondersteunend, tot hewige teenstand teen die nuwe voorstelle. Die belangrikste insette was waarskynlik die van Airbnb self, wat met die Minister van Toerisme vergader het. Die internasionale Airbnb ondersteun na bewering “billike en proporsionele reëls wat op feite gebaseer is, wat plaaslike mense ondersteun, en wat onderskei tussen professionele en nie-professionele aktiwiteite, terwyl plaaslike omstandighede in ag geneem word.”
Hoe lyk die pad vorentoe?
Die tyd sal leer wat die finale Wysigingswet gaan bepaal. Die oorheersende gevoel is dat die eindresultaat ‘n billike en werkbare balans tussen twee belange moet bewerkstellig. Dit is die behoefte om die bedryf te reguleer, aan die een kant, en die behoefte om entrepreneurskap en toerisme aan te moedig en te bevorder, aan die ander kant.
Indien dit nie so uitwerk nie, kan ons verwag dat die belanghebbendes hewige kapsie sal maak en dat hofaksie sal volg.
Provided by BSA Law | Bruno Simao Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.