Werkgewers: Wat is die plig op jou om Godsdienstige oortuigings te akkommodeer?
“The employer has a duty to reasonably accommodate an employee’s religious freedom unless it is impossible to do so without causing itself undue hardship. It is not enough that it may have a legitimate commercial rationale. The duty of reasonable accommodation imposed on the employer is one of modification or adjustment to a job or the working environment that will enable an employee operating under the constraining tenets of her religion to continue to participate or advance in employment” (Uittreksel uit hierdie hofuitspraak.)
Ingevolge ons reg, is ‘n ontslag outomaties onbillik wanneer ‘… die rede vir die ontslag inhou dat die werkgewer … onbillik gediskrimineer het teen 'n werknemer, regstreeks of onregstreeks, op enige arbitrêre grond, wat insluit, maar nie beperk is nie, tot ras, geslag, geslagtelikheid, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele oriëntering, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, geloof, politieke mening, kultuur, taal, huwelikstaat of gesinsverantwoordelikheid.” (Ons beklemtoning.)
Werkgewers moet uiters versigtig wees op hierdie gebied, soos wat die Arbeidsappèlhof in ‘n onlangse uitspraak gewaarsku het.
Ontslag waar die werknemer geweier het om op ‘n Saterdag te werk
- ‘n Werkgewer vereis dat ‘n bestuurder, tesame met al die ander bestuurders, op Saterdae werk ten einde voorraadopnames te doen.
- Sy weier en voer aan dat haar geloof haar nie toelaat om op Saterdae te werk nie. Sy is ‘n Sewende Dag Adventis, en hierdie geloof beskou die tydperk tussen sonsondergang op ‘n Vrydag en sonsondergang op ‘n Saterdag as die heilige Sabbat. Al die werknemer se voorstelle van hoe sy moontlik geakkommodeer kon word, is deur die werkgewer van die hand gewys.
- Sy word ontslaan vir “ongeskiktheid/onbevoegdheid”, en sy voer aan dat haar ontslag onbillik was. Die aangeleentheid word tot in die Arbeidsappèlhof deurgevoer.
- Die Hof beslis dat die ontslag outomaties onbillik was, en beveel die werkgewer om aan die werknemer 12 maande se vergoeding, asook kostes te betaal.
Wie moet wat bewys?
Die uiteinde van hierdie saak is grootliks bepaal deur die spesifieke feite wat hier ter sprake was. Daarom beveel ons aan dat jy, soos altyd, regsadvies inwin na gelang van jou spesifieke omstandighede.
Die Hof se uitspraak dien as goeie voorbeeld van hoe ons arbeidsreg se regsbeginsels ten opsgite van outomatiese diskriminasie in die praktyk toegepas word –
- Eerstens, die werknemer moes kon bewys dat haar godsdiens die “ware of werklike of dominante rede vir haar ontslag was en dat daar inderdaad ‘n direkte verband was tussen haar ontslag en haar geloof.” Sy moet voldoende getuienis lewer wat dui op 'n “geloofwaardige moontlikheid dat 'n outomatiese onbillike ontslag plaasgevind het”. Die werkgewer moes dan “die teendeel bewys deur getuienis aan te bied as bewys dat die rede vir die ontslag nie ‘n outomaties onbillike ontslag daarstel nie.”
- Die werkgewer voer aan dat die werknemer se weiering om voorraadopname te doen die primêre rede vir haar ontslag was. Hiervolgens sou die werknemer se “persoonlike oortuigings waarop haar weiering gebaseer was” niks daarmee te doen gehad het nie. Die Hof verwerp egter hierdie argument van die werkgewer en beslis dat die werknemer “ontslaan is, en teen gediskrimineer is, op gronde van haar nakoming van die voorskrifte van haar geloof”.
- Die Hof gaan voort deur te sê dat “die beslissende vraag ... is of die diskriminasie billik was, rasioneel gekoppel was aan ‘n regmatige doel, en nie [die werknemer se] menswaardigheid onbehoorlik beïnvloed of benadeel het nie.” ‘n Werkgewer wat sodanige verweer opper, sal dit ook moet kan staaf en bewys.
- In besonder, ‘n ontslag “mag billik wees indien die rede vir die ontslag gebaseer is op ‘n inherente vereiste van die spesifieke werk”. In so ‘n geval sal die werkgewer egter ook moet bewys “dat dit onmoontlik is om die individuele werknemer te akkommodeer, sonder om onnodige of onoorkombare probleme vir die besigheid te skep”.
- Op sterkte van die beskikbare getuienis wat in hierdie saak voor die Hof gelê is, het die Hof beslis dat die werkgewer nie die werknemer “redelikerwys geakkomodeer” het nie. Die hof bevind dan dat die ontslag outomaties onbillik was.
Provided by BSA Law | Bruno Simao Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.