Jou Laaste Testament: Wat is die gevolge as jy nie aan die Formaliteite voldoen nie
“It is not intended for the Court to make a will for the deceased based on what his intentions may have been.” (Uit die uitspraak. Die hof gaan dus nie oor die bedoelings van die erflater spekuleer nie.)
Die algemene reël in ons reg is dat ons gebonde is aan die ooreenkomste deur ons aangegaan en uitlatings deur ons gemaak, hetsy ons dit mondelings, elektronies, of skriftelik gedoen het.
Daar is wel uitsonderings op hierdie reël – sekere dinge moet op skrif gestel wees voordat ons reg dit sal aanvaar. Een van hierdie uitsonderings is heel waarskynlik die belangrikste dokument wat jy ooit sal teken – jou “Laaste Testament en Wilsbeskikking”. Dit is noodwendig jou laaste geskenk aan jou geliefdes – ‘n geskenk wat verseker dat daar behoorlik voorsiening vir hulle gemaak word vir wanneer (en nie “as” nie) jy doodgaan.
Moet dit nie afskeep of uitstel nie – indien jy nie ‘n testament nalaat nie, verbeur jy jou reg om te kies deur wie jou bates geërf word, en wie as jou eksekuteur aangestel gaan word. Dit is ook ewe belangrik om jou testament (op ‘n geldige wyse) op te dateer of te vervang na enige betekenisvolle “lewensgebeurtenis” (huwelik, geboorte van kinders, afsterwe, egskeiding, om ‘n paar te noem). Hieronder kyk ons na die hartseer geval van ‘n rekenmeester wat van voorneme was om sy testament te verander, maar nooit daarby uitgekom het nie.
Ons kyk eers na hoe jy kan verseker dat jou testament geldig is.
Die formaliteite
Om geldig te wees, moet ‘n Suid-Afrikaanse testament aan ‘n aantal formaliteite voldoen. Sekere hiervan vereis streng nakoming, en daarom is dit vanselfsprekend dat regshulp verkry moet word na gelang van elke spesifieke geval. Die algemene vereistes is dat jou testament op skrif moet wees, en dat dit deur jou en in die teenwoordigheid van twee “bevoegde” getuies onderteken moet word.
In ‘n era van elektroniese kontrakte en handtekeninge ontstaan die vraag of ‘n “elektroniese testament” (dalk in die vorm van ‘n e-pos, video, Sosiale Media boodskap, en dies meer) voldoende is. In kort is die antwoord ‘n byna besliste nee, dit sal nie voldoende wees nie. Die Meester van die Hooggeregshof (wat die testament as geldig moet aanvaar al dan nie) dring daarop aan om ‘n dokument van papier met fisiese oorspronklike handtekeninge daarop te sien. Dieselfde is van toepassing op enige daaropvolgende wysigings of byvoegings tot die testament.
‘n Ontsnappingsroete
Daar is wel ‘n moontlike alternatiewe roete – ons Wet op Testamente maak wel daarvoor voorsiening dat ‘n Hof die Meester van die Hooggeregshof kan beveel om ‘n testament wat andersins ongeldig sou wees, as geldig te aanvaar. Dit sal slegs die geval wees as die hof oortuig is dat die gebrekkige testament inderdaad deur die oorledene bedoel was om sy/haar laaste testament te wees. Hierdie is ‘n wonderlike hulpmiddel wat ons howe al dikwels in staat gestel het om ‘n ooglopende onreg te vermy deur gebrekkige formaliteite aan te spreek. Daar is egter geen plaasvervanger vir ‘n testament wat vanuit die staanspoor behoorlik opgestel en volgens voorskrif onderteken en verly is nie.
Hierdie onlangse uitspraak van die Hooggeregshof illustreer dit baie duidelik.
Die rekenmeester wat sy “Laaste Testament” in die vorm van ‘n e-pos aan sy verloofde gestuur het
-
‘n “Baie noukeurige rekenmeester” het in 2006 ‘n volledige testament vir homself opgestel, behoorlik opgestel en geformaliseer. In hierdie testament bemaak hy alles wat hy besit aan sy vrou (intussen sy voormalige vrou), van wie hy in 2011 geskei het.
-
‘n Paar jaar na sy egskeiding, raak die rekenmeester in 2014 verloof aan ‘n ander vrou met wie hy in ‘n “romantiese verhouding” was.
-
Op 4 Januarie 2016 het hy ‘n e-pos aan sy verloofde gestuur, met die opskrif “Laaste Testament”, waarin hy onder andere die volgende uiteengesit het: “Hierdie dien as my laaste testament en wilsbeskikking ... Indien ek sou sterf, bemaak ek al my bates en beleggings aan [my verloofde] ...” en “My lewenspolisse moet alles na my verloofde gaan”.
-
Daaropvolgende e-posse het dit duidelik gemaak dat beide die rekenmeester en sy verloofde daarvan bewus was dat daar moontlike geskille sou kon ontstaan rakende die geldigheid van die “testament” wat hy per e-pos aan haar gestuur het. Gevolglik het die verloofde ‘n “Aksielys” aan die rekenmeester gestuur. Die aksielys het ‘n item as “Testament” ingesluit. Hy het egter nooit daarby uitgekom om ‘n geldige testament te maak en te teken nie.
-
Met die rekenmeester se afsterwe op 14 September 2016, stel die Meester die bank wat in die rekenmeester se vroeëre, 2006 testament genomineer was, as eksekuteur aan.
-
Sy verloofde nader die Hooggeregshof vir ‘n hofbevel om die e-pos van 2016 as die oorledene se laaste, geldige testament te erken, en in die alternatief om die deel van die 2006 testament waarin alles aan sy voormalige vrou bemaak word, tersyde te stel. Om verstaanbare redes het die rekenmeester se voormalige vrou (en enigste erfgenaam) hierdie hofaansoek teengestaan.
-
Eerstens het die Hof aanvaar dat, gegewe die feite, die rekenmeester inderdaad die e-pos opgestel het en gestuur het. Hierna oorweeg die hof die tweede been van die ondersoek – “het die oorledene onomwonde beoog dat die betwiste testament sy Laaste Wil en Testament sou wees?”
-
Dit is nie die hof se plek om ‘n testament vir die oorledene te maak gebaseer op sy moontlike bedoelings nie. Die hof bevind dit onwaarskynlik dat dit die oorledene se bedoeling was dat die betwiste testament as sy Laaste Wil en Testament moes dien. Die kritiese bevinding van die hof is eerder dat die rekenmeester se e-pos niks meer was as ‘n e-pos waarin hy sy verloofde verseker het dat hy haar ‘n begunstigde in sy boedel sou maak nie.
- Die hof bevind dan uiteindelik dat die rekenmeester wel van voornemens was om sy boedel aan sy verloofde na te laat. Hy het egter nooit sover gekom om ‘n formele testament op te stel en te onderteken om dit te bewerkstellig nie. Die gevolg hiervan was dat die 2006 testament as die laaste en finale testament erken moes word. Sy voormalige vrou was ingevolge hierdie testament die enigste erfgenaam en die verloofde was op niks geregtig nie.
Dis ooglopend – jou “bedoeling” is nie genoeg nie!
Die enigste veilige manier om te verseker dat jou aanwysings oor wat na jou afsterwe met jou aardse besittings moet gebeur, duidelik is en uitgevoer gaan word, is om ‘n duidelike en geldige testament op te stel.
‘n Testament is ‘n belangrike dokument. Daar is geweldige nagevolge as dit nie 100% reg gedoen word nie. Vra jou prokureur om jou hiermee te help en om dit reg te doen!
Provided by BSA Law | Bruno Simao Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.