Demensie: Wat kan mens regtens doen om die persoon van hulp te wees en te beskerm.
“Dementia is die plaag van ons era, die siekte van ons eeu.” (Onbekend)
Demensie is 'n wydverspreide mediese toestand wat mense van alle ouderdomme aantas, veral bejaarde persone. Dit sluit toestande soos Alzheimer's in. Een van die uitdagings van demensie is die verlies van verstandelike kapasiteit, wat dit moeilik maak vir individue om belangrike besluite te neem, insluitend dié wat verband hou met hul regsake, finansies en sorg. Dit kan veral problematies raak wanneer familielede onvoorbereid of onbewus is van die praktiese en wetlike implikasies.
Pasop vir die Volmag-mite
Ons verneem soms van ‘n familielid dat hy of sy 'n getekende volmag het van die persoon wat aan demensie ly en dat hul dan van mening is dat hulle magtiging het om vir ewig beheer oor die individu se finansiële sake te neem. ‘n Volmag bly slegs geldig solank as die persoon wat dit toegestaan het, volle regsbevoegdheid behou. Die persoon moet dus ten volle weet wat om hom omgaan en moet self nog ten volle ingeligte besluite kan neem. Die belangrike implikasie hiervan, wat mense dikwels nie besef nie, is dat wanneer demensie intree, verval die volmag onmiddellik en sal voortgesette handeling ingevolge die volmag ongeldig wees.
In sommige ander lande word deurlopende volmagte erken, wat voortduur selfs nadat iemand sy of haar bevoegdhede verloor het. Dit is belangrik om te besef dat dit beslis nie die geval is ingevolge die Suid Afrikaanse regstelsel nie.
Wat is dan die wetlike alternatiewe vir die praktiese hantering van die sake van ‘n persoon wat aan demensie ly?
Hier is drie regsopsies om te oorweeg-
- Kuratorskap: Dit behels ‘n aansoek na die hooggeregshof vir ‘n hofbevel om 'n kurator bonis aan te stel, met die aangestelde kurator wat dan die magte sal ontvang om die geldsake van die persoon met demensie te bestuur ('n kurator ad personam kan dalk ook nodig wees om die persoon se persoonlike sake te bestuur). Hierdie proses kan kompleks en duur wees, en dit neem ‘n paar maande vir die finale aanstelling van die kurator, maar in sommige gevalle is dit die enigste gepaste opsie.
- Administrasie: Dit is soortgelyk aan kuratorskap en is veronderstel om minder kompleks, goedkoper en vinniger, te wees. Dit behels 'n aansoek na die Meester van die Hooggeregshof vir die aanstelling van 'n Administrateur vir die persoon.
Dit is slegs beskikbaar wanneer jou familielid 'n geestelik siek persoon is of ‘n persoon is met ernstige of diepgaande intellektuele gestremdheid, soos wat dit in die wet beskryf word. Dit sluit dus iemand uit wat fisiese verswak of gestremd is. Dit kan ook daarop dui dat in gevalle van ligte demensie of ligte kognitiewe gestremdheid dat slegs kuratorskap van toepassing gaan wees. Verkry eerder toegepaste regsadvies oor jou spesifieke omstandighede. In groter boedels is daar verdere moontlikhede van kostes en vertraging met administrasie, aangesien die Meester 'n ondersoek moet laat doen na enige aansoek waar die betrokke bates meer as R200,000 is en die jaarlikse inkomste meer as R24 000 per jaar is.
- Spesiale Trust: 'n Alternatiewe opsie om te oorweeg is 'n trust of ‘n spesiale trust, wat opgerig kan word as jou familielid aan ‘n vroeë aanvang van demensie ly, maar wat oorwegend steeds helder en regsbevoegd is. Trusts bied ook die voordeel dat die betrokke individue die vryheid het om vooraf te kies wie die trustees sal wees en watter bevoegdhede en pligte hulle sal hê. Spesiale trusts bied ook aansienlike belastingvoordele bo gewone trusts. Hier gaan julle wel professionele advies moet verkry om julle hiermee te adviseer.
Deur te weet wat die moontlike regsweë is wat beskikbaar is, kan dit jou van hulp wees om hierdie moeilike reis te navigeer. Met behoorlike beplanning, persoonlike regsadvies en vroeë optrede kan jy seker maak dat jou kwesbare familielid se wetlike en finansiële welstand wel beskerm word.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.