Wat moet jy bewys om ‘n Trustee te kan verwyder?
“…where there is disharmony, the essential test is whether it imperils the Trust estate or its proper administration” (Geneem uit hierdie Hofuitspraak.)
Trustees is veronderstel om met mekaar saam te werk ten einde die belange van die trust en die trustbegunstigdes te beskerm en te bevorder. Dit is egter so dat ernstige dispute wel van tyd tot tyd onder trustees opduik.
Indien skikkingsonderhandelinge misluk het, en daar geen alternatiewe oplossing is behalwe om ‘n trustee teen sy sin te verwyder nie, het ons howe die mag om die trustee te verwyder. ‘n Hofaansoek moet in so geval deur óf die Meester van die Hof, óf deur “enige persoon wat ‘n belang in die Trusteiendom het”, gebring word.
Wat moet jy bewys om sodanige verwydering as Trustee te bewerkstellig?
‘n Onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl bevestig dat “die verlies aan wedersydse vertroue en respek (tussen Trustees), beteken nie sonder meer dat daar gronde vir die verwydering van die trustee bestaan nie, of dat die Trusteiendom op risiko gestel is nie [gevaar of risiko dat dit beskadig of vernietig kan word]. Daar moet verder bewys word dat, as gevolg van hierdie optrede, die Trusteiendom in gevaar gestel word of dat die administrasie van die Trust of die bestuur van die Trust se bates in gevaar gestel word. Dit is dus ‘n feitevraag. Die bepalende toets word altyd toegepas wanneer die stand van sake – of dit nou onbekwaamheid, wangedrag, onbevoegdheid, of gebrek aan vertroue en respek tussen die trustee of begunstigdes is – daartoe gelei het dat die Trusteiendom of die behoorlike administrasie van die trust in gevaar gestel is.” (Eie vertaling en eie beklemtoning.)
Die hof meld ook dat howe hul mag om ‘n trustee te verwyder met omsigtigheid sal benader.
Dit is duidelik dat die verwydering van ‘n Trustee nie ‘n maklike taak is nie.
Geskille in ‘n familietrust – die uitkoms
- ‘n Besigheidsman is oorlede en sy aandele portefeulje van R2.8 mijoen en ‘n 75% aandeel in ‘n eiendomsmaatskappy het in ‘n familietrust gevestig. Die oorledene se moeder, sy stiefpa, broer, vrou, volwasse kinders en rekenmeester was almal in die een of ander hoedanigheid by hierdie trust betrokke.
- Die verhoudinge tussen die rolspelers het versuur, en dit het gelei tot bewerings van diefstal (met wedersydse strafregtelike klagtes wat gelê is), onderdrukkende gedrag, botsings van belange, sameswering, vendettas, en so aan.
- Die vrou van die oorledene (in haar hoedanigheid as trustee en begunstigde) het saam met haar seuns (die ander begunstigdes) aansoek gedoen vir die verwydering van die betrokke trustee. Hulle was ook aanvanklik suksesvol met hul aansoek vir die verwydring van die een trustee. Na ‘n lang, uitgerekte en ongetwyfeld duur proses deur die howe, het hulle in die Appèlhof geëindig.
- Die hof bevind dat die feite nie daarop dui dat die moeilike verhouding tussen die partye die trust se eiendom of die administrasie van die trust bedreig het nie. Die Appèlhof bevind gevolglik dat dit nie in die belang van die trust of die trust se begunstigdes is om die verweerder as ‘n trustee te verwyder nie. Die hof het die vorige bevel van die Hooggeregshof gevolglik tersyde gestel. Die oorspronklike trustees sal gevolglik met mekaar moet saamwerk ten gunste van die trust en die trustbegustigdes.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.