Grootouers – Wanneer moet Oupa of Ouma onderhoud betaal?
“An inability on the part of the parents to maintain a child must be established before a grandparent will be legally liable to do so” (Uittreksel uit hierdie uitspraak.)
Hoeveel grootouers is daarvan bewus (of beplan selfs) vir die moontlikheid dat daar onder sekere omstandighede ‘n regsplig op hulle rus om hul kleinkinders te onderhou?
Dit is moeilik genoeg om die finansiële aspekte van jou aftrede te beplan en te bestuur. Om skielik te hoor dat jy nie net jouself en jou gade moet onderhou nie, maar ook jou kleinkind (en moontlik vir dekades lank), kan ‘n geweldige uitdaging vir jou meebring. Boonop is daar die risiko dat wanneer jy sterf, jou boedel aanspreeklik sal bly. Die kritieke vraag hier is hoe dit jou boedel se vermoë om jou langslewende gade te onderhou, kan benadeel.
‘n Onlangse uitspraak van die Appèlhof het die volgende bevestig:
- As grootouer is jy potensieel aanspreeklik vir onderhoud gedurende jou leeftyd.
- Wanneer jy tot sterwe kom, sal jou boedel nie vir onderhoud aanspreeklik gehou word nie (ingevolge die toepassing van huidige wetsbepalings en regspraak).
Die meerderjarige kleindogter se eis en die reg
Hierdie saak het gehandel met ‘n onderhoudseis wat teen die eksekuteurs van ‘n oorlede oupa se boedel ingestel is. Die eis was gebaseer op die veronderstelling dat die oupa se boedel aanspreeklik sou wees om onderhoud aan ‘n 30-jarige kleindogter te betaal. As gevolg van sielkundige probleme, matige intellektuele gestremdheid, en ‘n bevinding dat die kleindogter haar ook op die outisme spektrum bevind, was die kleindogter nie in staat om haarself te onderhou nie. Haar pa het geëmigreer, en hy het geen onderhoud vir sy dogter betaal nie. Hy kon ook na bewering nie opgespoor word nie. Haar ma se vermoë (of onvermoë) om haar volwasse kind te onderhou is nie op enige manier bewys nie.
Die Appèlhof is gevra om nuwe regsbeginsels neer te lê deur ‘n grootouer se aanspreeklikheid om sy of haar kleinkinders te onderhou, na sy of haar bestorwe boedel uit te brei. Op die getuienis wat in hierdie saak voor die hof was (met ander woorde, ons howe mag hierdie kwessie weer in die toekoms heroorweeg) het die Hof geweier om die reg op hierdie wyse uit te brei. Die Hof het die huidige regsbeginsels as volg uiteengesit -
- Aanspreeklikheid vir onderhoud sal oor die algemeen van drie faktore afhang –
- Die eiser se onvermoë om homself of haarself te onderhou.
- Sy/haar verhouding met die persoon van wie onderhoud geëis word.
- Daardie persoon se vermoë om onderhoud te betaal.
- Die primêre versorgers is die ouers van ‘n kind. Hulle het ‘n plig om hul kind te onderhou sover as wat hulle in staat is om dit te doen (dit geld ook teenoor ‘n oorlede ouer se boedel wanneer die ouer tot sterwe kom).
- Ouers en kinders het ‘n wedersydse plig van ondersteuning teenoor mekaar.
- “Indien ouers nie hul kinders kan ondersteun en onderhou wat dit nodig het nie, kan ander familielede insluitend die grootouers, verplig word om ondersteuning aan hulle te bied. Daardie plig om te onderhou sal altyd eers op die naaste familie geplaas word voordat dit op vêrlangse familie geplaas word”.
- Ingevolge die huidige regspraak, kan ‘n oorlede grootouer se boedel nie aanspreeklik gehou word vir die onderhoud van ‘n kleinkind nie.
Ter opsomming – Drie faktore om aanspreeklikheid te bepaal.
Met ander woorde, jy as persoon (maar nie jou boedel as jy tot afsterwe kom nie) kan verplig word om onderhoud te betaal wanneer –
- Jou kleinkind nie self-onderhoudend is nie.
- Beide ouers (of hul bestorwe boedels) nie finansieël in staat is om die nodige ondersteuning te bied nie.
- Jy as persoon wel finansieel in ‘n posisie is om onderhoud vir jou kleinkind te kan betaal.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.