Kan jy bekostig dat jou domeinnaam onderskep word?
Kan jy dit bekostig om jou domeinnaam te verloor? Wat sal met jou besigheid gebeur as jou webwerf en jou e-posse skielik nie meer beskikbaar is nie omdat jy jou domeinnaam verloor het? Die meeste besighede sal dit as ‘n absolute ramp ervaar. Dit kan ook die finansiële einde van die besigheid inhou, veral waar die nuwe eienaar van die domeinnaam ‘n buitensporige bedrag geld wil eis, om die domeinnaam aan jou beskikbaar te stel of terug te verkoop.
SAIIPL (the South African Institute of Intellectual Property Law) is ‘n liggaam wat dispute hieroor kan aanhoor. Hulle handel ook met die onderskepping van domeinname oftewel “drop catching” .
Onderskepping van domeinname
“Drop Catching” of onderskepping is ‘n wettige besigheidsmodel waardeur domeinname wat verval het, gekoop word met die doel om dit weer aan ander aan te bied en te verkoop. Dit is ‘n proses wat outomaties met spesiale sagteware werk. Dit identifiseer welke domeinname beskikbaar geraak het en registreer dit dan in die naam van die onderskepper, met die doel om dit weer in die ope mark te verkoop.
Dit kan onderskei word van “kuberplakkers”. Dit is ‘n model waardeur “plakkers” handelsmerke of die name van besighede of mense as domeinname registreer, al het die plakkers geen verbintenis daarmee nie. Hulle bied dit dan te koop aan teen hemelshoë bedrae; of gebruik die name om besigheid na hul eie webwerwe te kanaliseer.
‘n Administratiewe oorsig en die onaktiewe webwerf; R200 000 om dit op te los
‘n Besigheid het goeie sake bedryf deur haarverlengings op groot skaal te bemark en te verkoop. Dit het ook ‘n geregistreerde handelsmerk “Darling” gehad. Vir baie jare is hul produkte op hul webwerf darling.co.za bemark.
-
Die administrasie van die domeinnaam is deur hul internet diensverskaffer hanteer, wat jaarliks ‘n versoek aan hulle gestuur het om die jaarlikse hernuwingsfooi te betaal. In die mees onlangse jaar is die kennisgewing nie uitgestuur nie. Die hernuwingsfooi is gevolglik nie betaal nie.
-
Die webwerf was skielik nie meer beskikbaar nie; ‘n webblad het eerder verskyn wat aangedui het dat die domeinnaam te koop sou wees. Die registrasie van die domeinnaam het verval omdat die jaarlikse fooi nie betaal is nie. Die nuwe entiteit se sagteware het die domeinnaam onderskep en aangeskaf. Die onderskeppers het aangedui dat hulle die domeinnaam aan die dorp Darling wou aanbied tesame met hul voorstelle oor hoe om ‘n gepaste advertensie webwerf die lig te laat sien.
-
Die eienaars van die besigheid het R1,000 aangebied om hul naam terug te kry. Hulle is meegedeel dat die prys $15,000 was (omtrent R200,000) – veel meer as die oorspronklike kostes wat hul aangegaan het om die domeinnaam aanvanklik te registreer.
-
Die SAIIPL het die aangeleentheid aangehoor. Hulle bevind en beveel dat die domeinnaam weer aan die oorspronklike eienaar toegeken moes word. Dit ten spyte daarvan dat die besigheid vier maande geneem het om agter te kom dat hul webblad nie meer werk nie en dat hul geen ooglopende onderbreking van hul besigheid ervaar het nie. Dit blyk dat die besigheid meer aktief op hul Facebook blad en op hul gelyknamige .com webwerf was. Die SAIIPL maak wel die bevinding dat die onderskepper in goeie trou opgetree het, sonder enige aanduiding dat hulle buitensporige bedrae wou afrokkel vir die herstel van die besigheid se domeinnaam nie.
- Die feit dat die besigheid die geregistreerde eienaar van die handelsmerk was, het die onderskepper se doppie geklink. Met die domeinnaam in ooreenstemming met die geregistreerde handelsmerk, was die onus op die onderskepper om te wys dat die registrasie nie ‘n misbruik was nie. Hoewel die SAIIPL dus nie kwade trou bevind het nie, was hul wel bereid om te bevind dat die opportunistiese registrasie wel ‘n misbruik daarstel. Die besigheid het darem oor die jare ‘n direkte verbintenis en klandisiewaarde in en met die handelsmerk verkry. Daar was ook ‘n wesentlike risiko dat die besigheid skade sou lei indien die domeinnaam aan ‘n mededinger verkoop sou word. Dit sou nie die geval gewees het indien dit aan die dorp Darling verkoop sou word nie.
- Die aangewese beregter maak dit egter duidelik dat hierdie ‘n grensgeval was. Die eenvoudige administratiewe oorsig om nie die domeinnaam se registrasie te hernu nie, kon baie maklik veroorsaak het dat die besigheid sy domeinnaam kwyt was.
Maak seker dat dit nie met jou besigheid gebeur nie!
Maak seker dat julle ‘n sisteem in plek het om jaarliks al jul domeinname voortydig te hernu. Indien julle enige probleme hiermee optel, verkry sonder versuim die nodige regshulp.
Provided by Hugh Raichlin Attorneys Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.