Direkteure wat koppe stamp: Beëindiging van toegang tot e-posse
“All is fair in love and war…and business is war." (Jasmine Kundra)
Wanneer die direkteure van ‘n maatskappy met mekaar in ‘n dispuut gewikkel is, kan een van hulle in die versoeking wees om die ander se toegang tot e-posse via die besigheid se bedienerrekenaar, te beëindig. Dit is ‘n taktiek wat waarskynlik onmiddellike en ernstige nagevolge vir die betrokke direkteur kan hê.
Dit is duidelik waarom hierdie ‘n effektiewe taktiek kan wees om die ander direkteur te dwing om onderhandelinge te hervat. Die vraag is egter of die direkteur wat so van toegang ontneem word, regtens enige remedie tot sy beskikking het om weer onmiddellike toegang te kan verkry.
In ‘n onlangse saak wat in die Hoogste Hof van Appèl aangehoor is, het ‘n direkteur in hierdie einste posisie gepoog om dringend sy toegang te herstel deur ‘n aansoek vir ‘n “spoliasiebevel” te bring.
“Verhoed sy toegang tot e-posse en die bedienerrekenaar”
Toe die twee direkteure begin koppe stamp, het een van hulle (kom ons noem hom ‘A’) aansoek gedoen vir likwidasie van die maatskappy op grond daarvan dat ‘n dooie punt bereik is. Direkteur B het die aansoek teengestaan. Hy het verder beweer dat A uit sy direkteursamp bedank het, en het instruksie aan die webgasheer (“web hosting entity”) wat in beheer van die maatskappy se bedienerrekenaars (“server”) was gegee om A se toegang tot e-posse asook die maatskappy se netwerk en bedieners, met onmiddellike effek te beëindig.
A het ontken dat hy bedank het, en het onmiddellik by die hof aansoek gedoen vir ‘n “spoliasiebevel” om toegang tot sy e-posse en die bediener te herstel.
Spoliasie – ‘n vinnige en effektiewe manier om besit terug te kry, maar slegs indien …
- Die spoliasieproses is daargestel om te verhoed dat partye wat met mekaar in ‘n dispuut gewikkel is, die reg in eie hande neem. Dit is ‘n vinnige en effektiewe manier om besit terug te kry van iets waarvan jy onregmatiglik ontneem is. Dit is ‘n vinnige remedie omdat, sê die Hof: “Die onregverdigheid van besit deur die persoon wat die aansoek bring, is irrelevant, omdat hy op ‘n spoliasiebevel geregtig is, selfs al is hy dief of ‘n rower. Die fundamentele beginsel van die remedie is dat niemand die reg in eie hande mag neem nie.” Met ander woorde, jy kan ‘n onmiddellike spoliasiebevel verkry sonder om te bewys dat jy op besit geregtig is. Al wat jy moet bewys, is onregmatige ontneming van besit. (Eie vertaling.)
- Dit sou die ideale uitkoms vir A gewees het. Hy sou onmiddellik weer toegang tot sy e-posse kon verkry, eerder as om eers ‘n volle verhoor te moes deurmaak in ‘n poging om sy reg op toegang tot die e-posse en bediener te bewys. Dit was ongelukkig nie die geval nie. Sy probleem was dat een van die eerste punte wat jy moet bewys ten einde ‘n spoliasiebevel te kan verkry, is dat jy wel “vreedsame en ongestoorde besit” van iets gehad het.
- A sou sodanige besit kon bewys indien hy byvoorbeeld onregmatiglik van die gebruik van ‘n maatskappymotor, of selfs van ‘n “onliggaamlike” reg om eiendom te gebruik (soos “quasi-besit” van ‘n reg van toegang ingevolge ‘n serwituut) ontneem is. Hy was egter nie daartoe in staat om die Hof te oortuig dat toegang tot sy e-posse/bediener in enige van daardie kategorieë geval het nie.
- Die Hof het dit as volg gestel: “Dus sal slegs die reg om eiendom te gebruik, of gevalle van okkupasie, ‘n spoliasiebevel regverdig.” A se historiese gebruik van die e-posadres en die bediener was nie ‘n “geval van besit van roerende of onroerende eiendom” nie. Dit was suiwer “n persoonlike reg wat, indien enigsins afdwingbaar was, teen die [maaskappy] afdwingbaar was.” (Eie vertaling.)
- Die uiteinde: A moet bewys dat hy regtens op toegang tot die e-posse en bediener geregtig is. Hy mag dalk adviseer word om vir ‘n gewone interdik aansoek te doen, of dalk besluit hy om vir skadevergoeding en/of herindiensneming te dagvaar. Ongeag watter roete hy kies, sal hy moet aanvaar dat dit met vertragings gepaard sal gaan. Met ander woorde, indien B se plan was om onmiddellike en aansienklike druk op A oor die kort termyn te plaas, was hy suksesvol hiermee – ten minste vir nou.
Hierdie bly ‘n ingewikkelde deel van ons reg. Watter roete jy in gedagte het, verkry eers ingeligte advies oor die toepaslike roete om te volg. Dit kan vir jou sleg afloop, as jy onsuksesvol is.
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.