Werknemers wat plunder en aan gewelddadige staking deelneem: Wanneer sal ontslag billik wees?
Werknemers se gewelddadige optrede en plundery kan deel wees van ‘n staking. Dit kan ook deel wees van openbare geweld soos wat ons onlangs in ons land beleef het. In alle gevalle moet werkgewers met die nodige sorg optree.
Die reg van werknemers om aan wettige stakings deel te neem word erken en beskerm. Werknemers mag beslis staak; as hulle egter saam met ‘n staking gewelddadig of intimiderend teenoor ander optree, sal ons howe min simpatie met hulle hê.
Ons kyk na twee uitsprake van die Arbeidsappèlhof -
Werknemers wat as ‘n groep ontslaan is as gevolg van assosiasie met ‘n groep werknemers wat ‘n ander persoon aangerand het.
“Within a labour law context the requisite intention exists where it is proved that an employee intended that misconduct would result or must have foreseen the possibility that it would occur and yet, despite this, actively associated himself or herself reckless as to whether such misconduct would ensue” (geneem uit hierdie uitspraak).
In die eerste geval is 148 werknemers vir wangedrag gedurende ‘n staking ontslaan.
- Die Personeelbestuurder het sy kantoor verlaat om met stakende werknemers te gaan praat. Die groep werknemers het hom omsingel, aangeval en ernstig aangerand. Hulle het hom by die venster uitgestoot, hom met klippe bestook, geskop en geslaan terwyl hy op die grond gelê het. Hy het vir sy lewe gevrees en het ernstige beserings aan sy gesig, arms en liggaam opgedoen. Video opnames van die insident het later gewys hoe die werknemers die aanranding opgehemel en gevier het.
- Tydens die opvolgende dissiplinêre verhoor is bevind dat twaalf werknemers direk aan die aanranding deelgeneem het. Die verhoor bevind verder dat die ander werknemers deelgeneem het deur hul met die aanranding te assosieer. Hulle het ‘n gemeenskaplike opset met die aanranding gehad. Al die werknemers is gevolglik na afloop van die verhoor summier ontslaan.
- Die Arbeidshof het die ontslag van al 148 werknemers bevestig. Hierna het 41 van die werknemers appèl aangeteken na die Arbeidsappèlhof. Hulle voer aan dat die gemeenskaplike opset in die aanranding nie bewys is nie. Daar was volgens hulle nie getuienis dat hulle teenwoordig was met die aanranding nie, of dat hulle geweet het van die aanranding nie, of dat hulle ‘n gemeenskaplike opset met die fisiese aanranders gehad het nie, of dat hulle enigsinds gemeenskaplik met die aanranders gehandel het nie.
- Die hof verwys na die Grondwetlike Hof se uitspraak en bevind dat “it was unnecessary to place each employee on the scene to prove common purpose which can be established by inferential reasoning having regard to the conduct of the workers before, during and after the incident of violence”. Die hof meld dat “…the inference drawn that all employees were involved in or associated themselves with the assault became the most probable and plausible”. Die hof bevind dan dat die 41 werknemers teenwoordig was tydens die insident en dat hulle hulself met die groep se optrede vereenselwig het voor, gedurende en na afloop van die gewelddadige aanranding. Die hof bevestig en bekragtig die ontslag van die groep werknemers.
Stakende werknemers gewapen met stokke, pype en ‘n sambok in ‘n slaglinie.
“The constitutionally protected right to strike does not encompass a right to carry dangerous weapons on a picket line which, by their nature, not only expose others to the very real risk of injury, but also serve to threaten and intimidate” (geneem uit hierdie uitspraak).
In die tweede saak is 'n groep werknemers ontslaan nadat hulle aan 'n nasionale staking deelgeneem het wat gewelddadig geraak het.
- Drie van die werknemers het elkeen 'n stok gedra terwyl hulle saam met 'n groep stakers in die slaglinie gestaan het; 'n ander het 'n stuk PVC-pyp gedra en die vyfde werknemer het beide 'n stok en 'n sambok by hom gedra. Twee ander stakers in die skare het onderskeidelik 'n gholfstok en 'n byl by hulle gedra. Soos verwag kan word, het minstens twee mense tydens die staking ernstige beserings opgedoen.
- Die werknemers is daarvan aangekla dat hulle tydens die staking gevaarlike wapens gebruik het of rondgeswaai het. Na afloop van hul dissiplinêre verhore is hulle ontslaan.
- Die saak is uiteindelik in die Arbeidsappèlhof aangehoor en die hof bekragtig die afdankings. Die hof bevind dat die stakers bewus was van 'n reël van hul werkplek wat wapens van watter aard ookal verbied het. Geen stakers mag wapens dra of rondswaai nie. Hulle het geweet of moes redelikerwys voorsien het dat hulle dissiplinêr verhoor sou word as hulle in stryd met hierdie reël optree.
- Die resultaat is nog 'n waarskuwing aan stakende werknemers. Werknemers het beslis die reg om te staak en die reg word grondwetlik beskerm. Daarenteen raak stakings en slaglinies onwettig as dit gewelddadig raak en wanneer gevaarlike wapens gebruik of rondgeswaai word.
Wat van werknemers wat nie op diens was nie en wat saam geplunder het?
Ons het die grusame en onstellende beelde en video's gesien van die onlangse gevalle van openbare plundering en vernietiging. Ons het die blatante misdadige gedrag gesien. Van die oortreders het skaamteloos en in die openbaar meegedoen. Baie van hulle sal maklik deur hul werkgewers uitgeken kan word.
Jy dink waarskynlik dat dit gepas is om onmiddellik teen so ‘n werknemer op te tree; al was hulle nie in diens nie en ook nie naby jou werkplek nie. Wie wil nou 'n plunderaar of brandstigter in diens hê?
Daar is ruimte in ons reg om in sekere gevalle teen sulke werknemers op te tree, maar ‘n element van hul misdadigheid moet direk aan hul werksverband gekoppel kan word. Dit moet dus relevant wees vir hul werksituasie. Daar is gevalle waar onmiddellike dissiplinêre optrede toelaatbaar en gepas gaan wees, maar beslis nie as ‘n algemene reël nie. Die regsposisie het hier soveel skakerings dat professionele advies vooraf noodsaaklik is.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.