Direkteure, Skuldeisers – Wat gebeur met jou borgooreenkoms tydens en na afloop van Ondernemingsredding?
Benjamin Franklin het waargeneem dat ‘n Skuldeiser ‘n beter geheue as ‘n Skuldenaar het.
In hierdie uitdagende tye van pandemie en wydverspreide gevalle van onrus, is daar heelwat besighede wat wankel. Van hierdie besighede sal beslis ondernemingsredding as opsie oorweeg totdat hulle weer op volle stoom sake kan doen.
Skuldeisers wat as gevolg van ondernemingsredding nie hulle volle skuldbedrag kan terugvorder nie (slegs die gelukkigste skuldeisers sal waarskynlik met volle betaling wegstap) sal kyk na enige persoonlike borgstelling wat hulle mag hou om daardie tekort te dek.
Die Hooggeregshof het in ‘n onlangse beslissing duidelikheid gebring oor wanneer en onder watter omstandighede persoonlike borgstellings die ondernemingsreddingproses sal oorleef.
Direkteure van maatskappye en skuldeisers moet die uitkoms verstaan en moet dienooreenkomstig optree.
Dagvaarding van R6 miljoen, die Hoof Uitvoerende Beampte sonder verweer.
- 'n Maatskappy se Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) het ‘n persoonlike borgskap ten gunste van 'n skuldeiser, wat petroleumprodukte aan die maatskappy verskaf het, geteken.
- Toe die maatskappy later in moeilike tye verkeer het, is dit in ondernemingsredding geplaas. Uiteindelik is 'n ondernemingsreddingsplan aanvaar, die reddingsproses is beëindig en die skuldeiser het die uitvoerende hoof gedagvaar vir die tekort op sy eis van net meer as R6 miljoen.
- Die hoofverweer van die HUB was dat sy aanspreeklikheid as borg 'n bykomstige verpligting was - met ander woorde, indien die skuldeiser se eis teen die hoofskuldenaar (die maatskappy) sou wegval, dan sou hy van sy aanspreeklikheid as borg vrygestel moes word.
- Die hof bevestig dat in gevalle waar die hoofskuldenaar van die verpligting om te betaal kwytgeskeld word, dit normaalweg inhou dat die borg ook vrygestel word om te betaal. Die hof wys egter daarop dat ons reg die partye toelaat om op hul eie reëlings ooreen te kom.
- In hierdie geval het die borgooreenkoms presies dit gedoen. Die ooreenkoms bevat standaardvoorwaardes, insluitende ‘n spesifieke bepaling dat die borg aanspreeklik sal bly, selfs al sou die skuldeiser en die maatskappy oorenkom om ‘n verlaagde bedrag te aanvaar ter vereffening van hul eis. In die ondernemingsreddingsplan was daar ook geen voorsiening wat die effek van die plan op die skuldeisers se eise teen borge hanteer het nie (dit sou byvoorbeeld spesifiek voorsiening kon maak vir borge om onthef te word of om aanspreeklik te bly). Die bewoording van die borgooreenkoms was deurslaggewend; dit het ingehou dat die skuldeiser nie sy eis teen die borg laat vaar het deur die ondernemingsreddingsplan te steun nie.
- Kortom - die Hoof Uitvoerende Beampte was nog persoonlik aanspreeklik vir die oorblywende bedrag van R6 miljoen, en die skuldeiser het nog 'n kans om die skuld ten volle te verhaal.
Let op die lesse wat uit hierdie hofsaak geneem moet word.
Die Appèlhof ondersoek in hierdie uitspraak omvattend die bepalings van die borgakte, die ondernemingsreddingsplan en die toepaslike wetgewing.
Die fyner besonderhede sal vir regspraktisyns van belang wees. Die hofsaak bied wel praktiese duidelikheid vir die direkteur, die borg en die skuldeiser.
Direkteur: Soos altyd, moet jy mooi dink voordat jy persoonlik borg teken vir die skulde van die maatskappy. As daar werklik nie vir jou ‘n alternatief is nie, moet jy ten volle begryp waarvoor jy jou inlaat. As daar later ‘n ondernemingsreddingsplan aan die maatskappy se skuldeisers voorgehou word, wil jy seker maak dat dit jou onthef van jou persoonlike borgverpligtinge vir enige oorblywende skulde van die maatskappy. Jy behoort selfs verder te gaan deur ontheffingsooreenkomste met spesifieke skuldeisers aan te gaan wat jou ook van alle borgverpligtinge onthef.
Alhoewel dit nie direk relevant was in hierdie spesifieke geval nie, moet jy ook probeer om die risiko van wyer persoonlike aanspreeklikheid te bestuur, bo en behalwe die borgooreenkoms. Dink maar aan vrystellings vir bewerings van roekelose handel en soortgelyke eise.
Skuldeisers: Aan die ander kant moet jy in jou hoedanigheid as skuldeiser probeer om geldige borgstellings van direkteure en ander met beslagbare bates te verkry. Dink ook aan ander bykomende vorms van sekuriteit oor die maatskappy se bates soos sessie van debiteure, notariële verbande oor roerende bates en verbande oor vaste eiendom. As dit kom by die ondernemingsreddingsplan, wil jy seker maak dat jou eis teen die borg nie deur die aanvaarding van die plan geraak word nie.
Hiervoor gaan jy professionele advies wil verkry.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.