Egskeiding: Wat behels die verbeurdverklaring van voordele en wanneer sal die hof so ‘n bevel maak?
“So often, a party in a divorce is so aggrieved and upset by their spouse's behaviour during the marriage, and rightfully so, that they cannot fathom having to give up an asset or let their spouse benefit in any way, upon divorce. We have had numerous spouses wanting us to apply forfeiture of the benefits of the marriage based on the other spouse's bad behaviour during the marriage.” (Uittreksel uit een van die hooggeregshof-uitsprake hieronder.)
Ons sien dikwels met egskeidings dat die partye hoë vlakke van stres, antagonisme, dispuut en wraakgedagtes beleef en ervaar. Dus, wanneer dit kom by die verdeling van die bates wat tydens die bestaan van die huwelik opgebou is, kan een of beide van die huwelikspartye die volgende houding inneem: “Hierdie egskeiding is sy/haar skuld, ek wil meer as net my eie deel hê, eintlik behoort ek nou alles te kry!”.
Dit is waar die verskynsel van "verbeurdverklaring van die voordele van die huwelik” ter sprake kan kom. Hierdie is ‘n gevestigde beginsel in ons reg. Ons sien toenemende gevalle hiervan in ons howe, soos blyk uit verskeie onlangse sake wat wye mediadekking ontvang het. Wat presies behels 'n verbeurdverklaringsbevel?
Wat presies behels 'n bevel waarin die voordele van die huwelik verbeurd verklaar word?
Wanneer die hof 'n egskeidingsbevel toestaan het dit ‘n diskresie, in gepaste gevalle, om te beveel dat een party óf al die bates van die huwelik, óf 'n spesifieke bate of bates verbeur. Dit kan dus meebring dat die hof die gevolge van die partye se gekose huweliksbedeling (in gemeenskap van goedere, buite gemeenskap van goedere met die insluiting van die aanwas, buite gemeenskap van goedere met die uitsluiting van die aanwas) en enigiets waartoe die partye in hul huweliksooreenkoms (voorhuwelikse kontrak) ooreengekom het, in geheel of gedeeltelik verbeurd verklaar.
Wanneer sal 'n hof ‘n bevel gee om die voordele van die huwelik te verbeur?
Kom ons begin deur dit duidelik te maak dat verbeurdverklaring beslis ‘n uitsonderlike bevel is. Die onus rus dus swaar op die party wat wil aanspraak maak op ‘n verbeuring van voordele om eerstens die grondslag waarop en tweedens die bedrag van hul aanspraak duidelik te bewys.
Die Egskeidingswet bepaal dat, waar 'n egskeiding toegestaan word op grond van die onherstelbare verbrokkeling van die huwelik, die hof verbeuring kan beveel indien die hof oortuig is dat een party "onbehoorlik bevoordeel" sal word in verhouding tot die ander party (die party wat die verbeurdverklaring eis; daardie party sal ook moet aantoon wat die aard en omvang van sodanige onbehoorlike voordeel sal behels.) Die hof sal die volgende faktore in ag neem –
- Die duur van die huwelik,
- Die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die verbrokkeling van die huwelik, en
- Enige wesenlike wangedrag aan die kant van een of beide die huwelikspartye.
Dit gee aan die hof 'n wye diskresie, met die feite in elke huwelik wat natuurlik anders sal wees. Ons kyk na drie onlangse beslissings van die hooggeregshof waar die een huweliksparty suksesvol was met hul aansoek om verbeurdverklaring teen die ander party.
- 'n Ontroue man verloor sy deel van die aanwas.
'n Paartjie was buite gemeenskap van goedere met mekaar getroud, met die insluiting van die aanwasbedeling. Dit sal normaalweg inhou
dat elke partye by egskeiding die aanwas in hul onderskeie boedels sal bepaal, waarna daar ‘n aanpassing tot voordeel van een van die partye gemaak moet word, sodat beide partye vir die duur van die huwelik, dieselfde aanwas in waarde sal hê. In hierdie spesifieke geval, was die partye vir twaalf jaar met mekaar getroud. Die vrou het die hof genader vir ‘n egskeidig en die hof het bevind dat dit ‘n gepaste geval sou wees vir die man om die vermoënsregtelike voordele van die aanwasbedeling in hul huwelik in geheel te verbeur, insluitend sy belang in die vrou se besigheid.Die hof bevind dat die man homself skuldig gemaak het aan skokkende en gruwelike wangedrag gedurende die grootste deel van die bestaan van die huwelik. Dit sluit in dat hy nie in die huwelikshuis gewoon het nie en dat hy versuim het om finansieel, emosioneel of op enige ander manier tot die gemeenskaplike woonhuis by te dra. Hy was ook gereeld in verskillende buite-egtelike verhoudings betrokke. Hy het ook, terwyl hy in diens was van sy vrou se suksesvolle besigheid, eerstens probeer om deur afpersing op bedrieglike wyse geld uit die besigheid te bekom, en tweedens het hy probeer om sy vrou se suksesvolle besigheid vir homself te kaap.
- ’n Kortstondige huwelik kom tot ‘n einde, en die vrou kry niks.
Hier het die hooggeregshof gelas dat 'n vrou haar deel van die gemeenskaplike boedelbates verbeur het. (Met huwelike wat in gemeenskap van goedere gesluit word; word 'n enkele, gemeenskaplike boedel gevorm, wat normaalweg by egskeiding 50/50 tussen die huwelikspartye verdeel sal word.) Hier het die man bewyse aan die hof voorgelê dat sy vrou net “met hom getrou het om finansiële welvaart vir haarself te verseker, haarself in die politieke arena te bevorder deur sy invloed te gebruik en om voordeel te trek uit sy boedel”.
Die hof het die volgende uitsonderlike faktore in ag geneem en as relevant beskou vir die bevinding van verbeurdverklaring. Die huwelik was van korte duur (14 maande van huweliksluiting tot egskeiding). Die ouderdomsgaping tussen die partye was 39 jaar. Die vrou se gebrek aan liefde en respek vir die man en haar uitgesproke verleentheid om saam met hom in die openbaar gesien te word. Haar begeerte om 'n uitspattige leefstyl te lei wat ook ver bokant die man se finansiële vermoë was.
- ‘n Man se wesenlike wangedrag, lei daartoe dat hy sy aanspraak en deel van hul gemeenskaplike boedel verbeur het.
In hierdie geval was die partye ook in gemeenskap van goedere met mekaar getroud. Die hof het beveel dat die man sy deel van die gemeenskaplike boedel moes verbeur. Dit het ingesluit sy aanspraak op hul onroerende eiendom en ook sy aanspraak op 'n aandeel in sy vrou se pensioenbelang. Die hof het bevind dat die man se gedrag gedurende die huwelik neerkom op "wesenlike wangedrag". Hy het nie bygedra tot die huishoudelike uitgawes nie, hy het versuim om sy kind se onderhoud te betaal totdat hy deur die Onderhoudshof gedwing is om dit te doen, hy het verskeie buite-egtelike verhoudings gehad en hy het hom gedurende die duur van die huwelik skuldig gemaak aan fisieke, finansiële en emosionele mishandeling van sy huweliksmaat.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.