Hoe om te verhoed dat iemand jou goeie naam op sosiale media beswadder.
“He that filches from me my good name robs me of that which not enriches him and makes me poor indeed.” (Shakespeare)
Soos wat ons lewens toenemend aanlyn beweeg, sal meer en meer van ons aan ongevraagde aanlyn aanvalle onderwerp word. Of hierdie aanvalle daarop gemik is om ons persoonlik seer te maak of om ons besighede te benadeel, kan dit ons op sielkundige sowel as op finansiële vlak aansienlike benadeel.
Wat kan jy doen as jy of jou besigheid geteiken word? Die goeie nuus is dat ons howe in gepaste gevalle wel vinnig tot jou redding sal kom, soos blyk uit 'n onlangse hooggeregshofbeslissing.
Hoe beskerm die reg jou?
Voordat ons die feite en die uitslag van hierdie saak oorweeg, kan ons daarop let dat jy as 'n slagoffer van enige vorm van laster 'n paar wettige opsies tot jou beskikking het om jou goeie naam te beskerm. 'n Eis om skadevergoeding kan wel effektief wees, maar dit is 'n terugskouende remedie wat in wese geskik is om lasterlike bewerings wat in die verlede teen jou gemaak is, aan te spreek.
Waar jy onderwerp word aan, of vrees om onderwerp te word aan, voortdurende lasterlike aanvalle, bespreek dit met jou prokureur of ‘n aansoek om ‘n dringende interdik dalk gepas sal wees. Soos in die geval wat ons hieronder bespreek, kan dit vir jou ‘n kragtige, vinnige en effektiewe remedie en beskerming bied.
Jy kan ook oorweeg om 'n strafregtelike klagte van crimen injuria (kriminele aantasting van 'n ander se waardigheid) aanhangig te maak, maar hier is jy uitgelewer aan die strafregtelike proses.
'n Eiendomsontwikkelaar se reputasie is gered. ‘n Poging tot afpersing is gestraf.
- 'n Maatskappy wat 'n groot eiendomsontwikkeling onderneem het, het 'n dakkontrakteur gekontrakteer om dakke aan te bring. Nadat die partye 'n uitval gehad het, het die dakkontrakteur lasterlike uitlatings oor die ontwikkelaar op 'n plaaslike WhatsApp-groep en op Facebook gepubliseer.
- Die aanlynplasings het die ontwikkelaar onder meer daarvan beskuldig dat hy op onwettige wyse vir finansiële gewin optree, potensieel lewensgevaarlike situasies skep, oneerlik optree, nie die nodige aksies uitvoer om brouwerk met die bouwerk reg te maak nie, die munisipaliteit bedrieg, bejaarde kliënte uitbuit, huise verkoop wat nog nie geïnspekteer is nie en wat potensieel gevaarlik is, nie aan voorgeskrewe veiligheidstandaarde voldoen nie – die lys gaan op hierdie trant aan.
- Die hof het geen waarheid in enige van hierdie bewerings gevind nie. Die hof het die dakkontrakteur se verweer van “waarheid en die openbare belang” verwerp weens 'n gebrek aan enige bewyse.
- Die hof het dit veral verdoemend bevind dat die kontrakteur die betaling van sy uitstaande fakture probeer afdwing het, in ruil vir die kontrakteur se stilswye en verwydering van die plasings.
- Die hof het die kontrakteur gevolglik verbied om voort te gaan met die lasterlike plasings (aanlyn of andersins), die kontrakteur beveel om 'n afskrif van die hofbevel op die betrokke aanlynkanale te publiseer, en die kontrakteur gelas om die regskostes op die bestraffende prokureur-en-kliënteskaal te betaal.
Die uiteindelike hofbevel was 'n bevestiging van die ontwikkelaar se posisie en 'n duur les vir die dakkontrakteur. Dit is ook rigtinggewend vir enige ander slagoffers van hierdie tipe aanlyn teistering.
Die boodskap aan enigiemand aan die ontvangkant van sodanige teistering – jy het wel goeie opsies tot jou beskikking om teistering op sosiale media met sukses aan te spreek.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.