Sakeredding – Is Dit Te Laat As Die Maatskappy Reeds In Likwidasie Is?
- ‘n Beslote korporasie se hoofbesigheid was die verhuring van sy kommersiële eiendomme.
- Die BK het lenings aangegaan by ‘n bank en daar was gevolglik verbande ten gunste van die bank oor hierdie eiendomme geregistreer.
- Die Hoë Hof het die beslote korporasie in finale likwidasie geplaas, ten spyte van die BK se argument dat dit eerder in sakeredding geplaas moet word.
- Vyf maande hierna het die BK weer aansoek gedoen om in sakeredding geplaas te word. Die Hoë Hof het bevind dat waar ‘n finale likwidasiebevel reeds toegestaan is, dit dan te laat is om vir sakeredding aansoek te doen.
- Die BK het die saak met sukses op appèl geneem. Die Hoogste Hof van Appèl bevind dus uitdruklik dat ‘n maatskappy of BK aansoek kan doen vir ‘n omskakeling na sakeredding, selfs waar ‘n finale likwidasiebevel reeds toegestaan is.
Dit kan jou in verskillende hoedanighede raak ....
Die Hof maak dit duidelik dat dit wel moontlik is dat ‘n maatskappy se omstandighede en vooruitsigte drasties kan verander, selfs al is dit in likwidasie.
Dit sou in uitsonderlike gevalle selfs weer winsgewend sake kon doen, indien dit kon voortgaan. ‘n Kontrak of opdrag wat al lank afgewag word, kan toegeken word, befondsing kan deurkom vir toekomstige projekte of ‘n groot skuldeiser kan ooreenkom om sy skulde ondergeskik te stel aan die ander skuldeisers om die maatskappy weer op sy voete te kry.
So ’n verwikkeling kan jou uiteraard beïnvloed indien jy enige van die volgende partye is:–
- ‘n Skuldeiser, ‘n verskaffer of ‘n kliënt van die maatskappy
- ‘n Werknemer
- ‘n Direkteur, aandeelhouer of borg
- Enige ander party met ‘n direkte belang in die maatskappy.
Onsekerheid en ontwrigting?
Indien sakeredding ‘n beter uitslag vir skuldeisers en aandeelhouers gaan meebring terwyl werksgeleenthede behou kan word, is daar geen rede waarom dit nie toegestaan kan word nie, al is die maatskappy in finale likwidasie. So bevind die hof.
Dit bring egter onsekerheid en moontlike ontwrigting mee. Wanneer die maatskappy (of beslote korporasie) in likwidasie geplaas word, verskuif die beheer en besluitneming oor van die direkteure (of lede) na die aangestelde likwidateurs. Hul pligte sluit in dat hulle besluite moet neem oor nuwe kontrakte, indiensneming en of die maatskappy enigsins verder moet sake doen. Daar is dus ‘n sterk moontlikheid van onsekerheid en ontwrigting indien die likwidasie opgehef word en die besigheid dan weer aan ‘n sakereddingspraktisyn of selfs die direksie oorhandig moet word.
Die hof neem kennis van hierdie wesentlike aspekte. Elke saak sal op eie meriete beoordeel word. Die hof sal ook nie so ‘n aansoek vir omskakeling goedkeur indien dit nie bona fide is nie en die hof nie oortuig is dat die voordele van ‘n omskakeling na sakeredding bereik kan word nie.
Likwidateurs – opgelope uitgawes en fooie
Die aangestelde likwidateurs word dan gewone skuldeisers vir enige onbetaalde uitgawes en fooie wat aangegaan is en verskuldig is vir die tydperk voordat die sakeredding ‘n aanvang neem.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.