Het Jy Jou Huis Verkoop? Stel Dan Jou Eie Oordragprokureur Aan
Die oordragprokureur se rol
Wanneer ‘n eiendom verkoop word, is die oordragprokureur die spesialis wat aangestel word as aktebesorger of oordragprokureur om toe te sien dat die eiendom oorgedra word en in die naam van die koper geregistreer word. ‘n Aktebesorger is ‘n prokureur wat ook bykomend gekwalifiseer is en spesifiek deur die hof toegelaat is om as aktebesorger te praktiseer. Slegs so ‘n toegelate aktebesorger is by magte om die oordrag van eiendom (en ander eiendomsregte soos servitute en verbande) in die Aktekantoor te registreer.
Wat is jou risiko? Wat kan gebeur?
- Gewoonlik behels die eerste stap met die verkoop van jou huis dat jy ‘n eiendomsagent aanstel om die eiendom te bemark en ‘n koper te vind. Hiervoor gaan jy reeds ‘n duidelike ooreenkoms moet aangaan en onderteken. Jy gaan nie later wil baklei oor die fyner terme van die mandaat of die ooreengekome kommissie nie. Jy gaan veral seker maak dat daar geen kans is dat jy dubbele kommissie op die transaksie moet betaal nie. Ons beveel altyd aan dat jou prokureur eers na die mandaat kyk voordat jy dit teken.
- Hierna kom die koopooreenkoms, ook bekend as die Aanbod om te Koop of Verkoopsooreenkoms. Die ooreenkoms moet in geheel op skrif gestel word en beide die koper en die verkoper moet dit onderteken. Daar kan nagevolge wees indien die ooreenkoms onduidelik is, nie voldoen aan die voorgeskrewe vereistes nie, dubbelsinnig is of nie reg onderteken is nie. Dit is ook belangrik dat jy verstaan presies wat jou verpligtinge is en waartoe jy jou verbind. Ons reg sal nie sommer inmeng met die terme, voorwaardes en verpligtinge wat die partye in hul ooreenkoms onderneem nie. Laat jou prokureur die ooreenkoms vir jou en met jou deurgaan, voordat jy dit onderteken.
- Tyd is geld. Enige vertraging met die oordrag, plaas jou op risiko. Daar is heelwat aktiwiteite waarmee die oordragprokureur mee besig is voordat die transaksie by die Aktekantoor ingedien kan word. Baie van hierdie aktiwiteite is afhanklik van die samewerking van derde partye soos die munisipaliteit, SARS, huiseienaarsverenigings, regspersone, banke en verbandhouers. Die transaksie is ook afhanklik van die volle samewerking van die koper. Indien ‘n koper se finansies langer neem om uit te sorteer of vir een of ander rede die oordragproses vertraag, moet daar vinnig opgetree word om die nodige samewerking te verseker. Kies dus jou oordragprokureur om seker te maak dat die transaksie spoedig en sonder oponthoude kan registreer.
Dring daarop aan dat jy as verkoper jou eie prokureur gaan gebruik
Die eienaar van die eiendom dra die meeste risiko indien enigiets met die transaksie skeef loop. Dit is om hierdie rede dat die verkoper by regte is om sy eie prokureur te benoem om die oordrag te hanteer. Die koopooreenkoms moet dit ook onomwonde so stel. Die feit dat die koper die oordragprokureur se fooie as deel van die oordragskostes betaal, behoort nie ‘n faktor te wees nie. Dit gebeur in elk geval dikwels dat die koper ook ‘n prokureur aanstel om ‘n professionele oog oor die oordrag te hou. Enige afslag wat die koper sou voorhou as rede waarom sy of haar prokureur gebruik moet word, hou ook geen voordeel vir die verkoper in nie.
Moet nie toelaat dat enigiemand jou reg as verkoper wegneem om jou oordragprokureur aan te stel om die transaksie namens jou te behartig en te registreer nie.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.