Werkgewers: Belangrike Nuus Vir Klein Sake
Ons wys vanuit die staanspoor daarop dat arbeidswetgewing ingewikkeld en veranderend is. Verkry dus toegepaste advies aangesien nie-nakoming van voorskrifte ernstige finansiële en ander gevolge vir jou besigheid kan inhou.
Ons het verlede maand gesien dat ‘n klein besigheid met sy werknemers kan ooreenkom dat verlof vir gesinsverantwoordelikheid as gewone jaarlikse verlof hanteer kan word. Ons kyk ook nou na van die ander bepalings van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes wat slegs op klein sake van toepassing is.
Is die Wet op Basiese Diensvoorwaardes op alle werkgewers en werknemers van toepassing?
Ja, met die uitsondering van werknemers in diens van die Nasionale Weermag, Nasionale Intelligensiediens, Suid-Afrikaanse Geheimediens, onbetaalde vrywilligers wat vir liefdadigheid werk en ‘n paar ander omskrewe situasies.
Is daar ‘n manier om van die bepalings van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes “uit te kontrakteer”?
Nee, die wet stel die basiese diensvoorwaardes daar en is van toepassing, al het die partye in hul dienskontrak ooreengekom op ‘n minder gunstige bedeling vir werknemers. Daar is wel voorsiening dat sommige voorwaardes by wyse van kollektiewe bedinging en ministeriële vasstelling gewysig kan word. Dit is hier waar die “Ministeriële Vasstelling 1: Kleinsakesektor” figureer.
Het jy ‘n klein besigheid?
In ‘n neutedop kwalifiseer ‘n besigheid met minder as tien werknemers, solank dit slegs een besigheid bedryf en dit nie ontstaan het uit die verdeling of ontbinding van ‘n bestaande besigheid nie. Dit is ook nie van toepassing op huishoudelike werknemers of die openbare diens nie; ‘n ooreenkoms van ‘n bedingingsraad of ander sektorale vasstelling sal wel voorrang geniet.
Oortyd
Die normale beperking van oortyd tot 10 uur per week word verhoog na 15 uur per week.
Die standaardbepaling is dat oortyd teen een en ‘n half keer die normale loon vergoed moet word. Hier is dit teen een en ‘n derde keer die normale loon vir die eerste tien uur van oortyd en dan teen een en ‘n half keer vir alles meer as tien uur per week.
Gemiddelde ure wat gewerk word
Jy sal met jou werknemers kan ooreenkom om hul gewone werksure en oortyd oor ‘n tydperk van tot ‘n jaar te versprei. Hulle sou dus kon instem om hierdie week meer ure te werk en volgende week meer ure af te hê, vir ‘n aaneenlopende periode van tot vier maande. Die gemiddelde ure word dan steeds beperk tot 45 ure gewone werkskure en tien ure oortyd per week.
Verlof vir gesinsverantwoordelikheid
Soos verlede maand aangedui, kan jy ook skriftelik met die werknemers ooreenkom dat verlof vir gesinsverantwoordelikheid van hul gewone jaarlikse verlof afgetrek kan word.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.