“Betaal ekstra vir die nuwe kragopwekker of ek moet jou tydens beurtkrag afsny”. Kan 'n verhuurder dit doen?
Beurtkrag bly met ons en dit teister ons en ons besighede. Wanneer huurders dan tydens kragonderbrekings aan hul verhuurder se alternatiewe kragbron – soos ’n kragopwekker – gekoppel word, is dit noodsaaklik dat beide partye hul onderskeie regte verstaan.
Ligte uit vir die gimnasium in 'n winkelsentrum
- 'n Luukse gimnasium het jare lank op die verhuurder van die winkelsentrum se kragopwekker staatgemaak om deur beurtkrag te kom, sonder om ekstra daarvoor te betaal.
- "Uit die bloute" het die verhuurder 'n maandelikse "dieselherwinningsheffing" geëis, en 'n dispuut het ontstaan oor of hy geregtig was om dit te doen en of die koste reeds gedek is deur die bestaande huurooreenkoms se bepaling - "alles insluitende maandelikse fooi vir alle uitgawes wat verband hou met die huur van die perseel”.
- Die partye het aanvanklik ooreengekom om die dispuut na arbitrasie te verwys, maar toe besluit die verhuurder om sy spiere te bult deur die gimnasium se verbinding met die kragopwekker af te sny.
- Die gimnasium het 'n dringende heraansluitingsbevel van die hooggeregshof verkry. Alhoewel dit slegs 'n tydelike oplossing vir die huurder is (hy moet steeds die arbitrasie wen of die ekstra heffing betaal), is die hof se beslissing 'n betekenisvolle een omdat dit die beginsel bevestig het dat toegang tot 'n alternatiewe kragbron wel met die gewone "spoliasie"-beginsels beskerm kan word.
"Spoliasie" – niemand mag die reg in eie hande neem nie.
Niemand mag die selfhelp-roete volg en die reg in eie hande neem deur sonder 'n hofbevel eiendom van iemand anders te verwyder nie. Enigiemand wat op hierdie wyse van besit ontneem word, kan die hof op ‘n dringende basis nader vir 'n "spoliasie"-bevel om die onmiddellike terugkeer van die eiendom na hom af te dwing.
Met hierdie aansoek kyk die hof nie na wie die wettige reg op die eiendom behoort te hê nie – al waarna die hof kyk, is of -
- Die besitter in "vreedsame en ongestoorde besit" van die eiendom was; en
- Die besitter op onregmatigige wyse van daardie besit ontneem is.
Dit is eenvoudig met die besit van 'n "liggaamlike" ding soos 'n motor, of 'n huis, of 'n papegaai. Wanneer dit kom by 'n "onliggaamlike" ding soos toegang tot 'n alternatiewe energiebron, raak dinge meer ingewikkeld. Nou moet jy bewys dat jy "kwasi-besit" van die kragtoevoer gehad het.
Hoe ingewikkeld dit ook al mag klink, bevestig hierdie uitspraak in beginsel dat toegang tot 'n alternatiewe kragtoevoer soos 'n kragopwekker ook regsbeskerming geniet, net soos met die besit van 'n liggaamlike saak. Op 'n praktiese vlak is dit vir beide verhuurders en huurders belangrik om hiervan kennis te neem.
Die laaste woord:
Die bewoording van elke huurkontrak sal bepaal of ’n huurder ’n afdwingbare reg op sy verhuurder se alternatiewe kragtoevoer het of nie – en indien wel of hy ekstra daarvoor moet betaal.
Die verhuurder kan nie net 'n huurder van die bestaande kragtoevoer afsny sonder om ingevolge die huurooreenkoms die wetlike proses te volg nie.
Provided by Everton Dankuru Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.