Jy kan (en behoort) diewe in die werkplek te dissiplineer en te vervolg.
"Dit is die profiel van die mees betroubare persoon, in 'n vertrouensposisie, soos 'n rekenmeester of boekhouer. Hulle neem gewoonlik nooit verlof nie, iemand wat nooit enigiemand anders toegang tot hul stelsel toelaat nie, hulle sal die moeite doen om hul skootrekenaars saam te neem terwyl hulle met vakansie is, sodat hulle kan aanhou werk. Hulle word gewoonlik uitgevang as gevolg van en ten tye van gedwonge afwesigheid by die werk." (Gespesialiseerde handelsmisdaadhof soos berig (beskrywing is vertaal) deur News24)
Ons strafhowe werk met 'n toename in ernstige gevalle van finansiële misdade en diefstal met werkgewers wat deur hul mees betroubare werknemers bedrieg en besteel word – dikwels boekhouers en rekenmeesters. Hoe groter die vertroue wat in hierdie oneerlike persone geplaas word, hoe meer steel hulle en hoe langer kom hulle daarmee weg.
In meer ernstige gevalle moet werkgewers strafregtelike klagtes lê en ook dissiplinêre stappe instel. Ons strafhowe lê wel swaar vonnisse ter afskrikking op, terwyl die Arbeidshof ook bevestig dat die lê van strafregtelike klagtes nie die gelyktydige dissiplinêre proses verhoed of benadeel nie.
Minimum vonnisse geld
Daar is wel minimum vonnisbepalings van toepassing in gevalle waar groot bedrae geld gesteel is. Selfs eerste oortreders moet tot 'n minimum van 15 jaar gevangenisstraf gevonnis word vir enige bedrog of diefstal waarby meer as R500 000 (R100 000 vir persone wat gesamentlik optree of R10 000 vir wetstoepassers) betrokke is, tensy “wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van 'n mindere vonnis regverdig”.
Kom ons kyk na 'n paar onlangse gevalle -
- 50 jaar vir diefstal van R537 miljoen: Oor ‘n tydperk van sowat twee dekades van diens in 'n vertrouensposisie as 'n rekenmeester, het 'n werknemer skuld erken op 336 aanklagte wat verband hou met diefstal van 'n verstommende totaal van R537 miljoen. Sy het haar spore probeer toevee met bedrieglike BTW-eise. Haar weelderige leefstyl (sy het byvoorbeeld op een spesifieke dag R5 miljoen spandeer) het wel aandag getrek, maar uiteindelik was dit net as gevolg van 'n anonieme wenk wat tot haar opsporing en arrestasie gelei het. Die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof (SCCC) het haar tot 50 jaar agter tralies gevonnis.
- 10 jaar vir bedrog van R13,4 miljoen: 'n Krediteureklerk, weereens in 'n vertrouensposisie, het skuld beken op 972 aanklagte van bedrog van altesaam meer as R13,4 miljoen. Haar bedrog het oor 9 jaar gestrek, en dit is eers ontdek toe sy met siekteverlof gegaan het. Die versagtende faktore wat sy aangevoer het (sy het gesondheidsprobleme en sy is 65 jaar oud) het daartoe gelei dat die hooggeregshof haar vonnis van 15 jaar tot 'n onder-die-minimum 10 jaar verminder het.
- 18 jaar vir 'n diefstal van R14 miljoen: 'n Finansiële bestuurder het meer as R14 miljoen gesteel, wat die egpaar wat hom met hul finansies vertrou het, gelaat sonder hul spaargeld wat hulle oor hul hele lewe opgebou het. Dit het ‘n uitbetaling vir ‘n kankerdiagnose ingesluit en dit het hulle gevolglik finansieel en emosioneel op hul knieë gelaat. Die hof vonnis hom tot gevangenisstraf van 18 jaar, drie jaar meer as die minimum vonnis. Dit ondersteun die hof se bevinding dat die verswarende faktore hierdie skelm finansiële bestuurder se verwydering uit die samelewing regverdig, ten spyte van sy dobbelverslawing en sy skoon rekord.
- 15 tot 30 jaar vir bedrog van R52 miljoen? 'n Winkelrekenmeester wat deur sy getraumatiseerde eienaars ten volle vertrou en "as 'n broer beskou is" (waarvan een selfs selfmoord oorweeg het), het twee aanklagte van bedrog van altesaam R52 miljoen erken as gevolg van sy dobbelverslawing. Hy sal eers in Maart gevonnis word. Mediaberigte dui aan dat hy waarskynlik die minimum 15 jaar gevangenisstraf per aanklag sal ontvang, wat moontlik gelyktydig kan loop.
Die Arbeidshof bevestig dat jy albei kan doen
’n Munisipale bestuurder met 15 jaar diens is strafregtelik van baie ernstige bedrog aangekla. Hy het die Arbeidshof gevra om sy werkgewer se dissiplinêre proses teen hom eers te staak; hy voer aan dat hy ter verdediging van homself tydens die dissiplinêre verhoor dalk selfinkriminerende getuienis sal moet lewer.
Die Arbeidshof het nie saamgestem nie en bevind dat die werknemer verskeie lae van beskerming in die strafverhoor tot sy beskikking gehad het. Die hof bepaal dat die werkgewer met die dissiplinêre verhoor kan aangaan. Trouens, het die Hof gesê, "Dit is 'n misbruik van 'n hofproses as 'n persoon in 'n bestuursposisie hofprosesse wil gebruik om te keer dat sy werkgewer hom aan 'n dissiplinêre proses onderwerp onder die dekmantel van die beskerming van sy grondwetlike regte." Die hof het hom gevolglik beveel om alle koste op die bestraffende prokureur en kliënteskaal te betaal – ongewoon in arbeidsregsake waar beide kante normaalweg gelaat word om hul eie koste te dek.
Provided by Everton Dankuru Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.