Ontslaan na Rassistiese Facebook Plasing
“The seriousness and gravity of offences involving racism and racial hatred cannot be over-emphasised. Employers are under a duty to provide a safe working environment and to protect all employees from harm, whether physical or emotional, whether they are black or white. An employer can be held liable for failure to take any action against its employees who are guilty of such conduct. South Africa is a country plagued by a history of racism and violence and social media plays a significant role in the incitement of racial hatred and violence. The power of such posts on social media inciting racial hatred cannot be undermined.” (Geneem uit hierdie hofuitspraak.)
Hier is nog 'n duidelike waarskuwing van ons howe om versigtig te wees met jou plasings op sosiale media. Verskillende vorms van sosiale media platforms, veral Facebook, word dikwels gebruik om te beledig, te dreig en om haat en geweld aan te spoor.
Dink mooi voordat jy dit plaas. Wees versigtig en deurdink dit weer, voordat jy dit plaas. Dit is die enigste veilige opsie hier. Die misbruik van sosiale media is gevaarlik vir enigiemand en op enige tydstip. ‘n Oortreder kan 'n eis om skadevergoeding of 'n dagvaarding van die Gelykheidshof verwag.
As dit by werknemers kom, is summiere ontslag ‘n sterk moontlikheid as daar enige vorm van rassisme of ander ernstige wangedrag ter sprake is.
Ons kyk na ‘n onlangse geval in die Arbeidshof.
Al was die werknemer van diens af, is hy steeds ontslaan weens 'n rassistiese Facebook inskrywing.
- 'n Algemene werker was tien jaar in diens by 'n hoë-profiel onderneming met 'n multikulturele arbeidsmag. Hy het 'n opmerking op die Facebook-blad van Eyewitness News geplaas dat alle wit mense vermoor moet word ('Whites mz b all kill'). Hierna het sy werkgewer hom dissiplinêr verhoor vir twee oortredings –
- Die maak van rassistiese opmerkings op sosiale media, en
- Dat hy deur sy optrede in stryd met die belange van sy werkgewer opgetree het.
- By die tugondersoek het die werknemer ontken dat hy die Facebook opmerking geplaas het en het hy beweer dat sy Facebook blad gekaap is.
- Hy is op albei aanklagte teen hom skuldig bevind. Hierna het hy die geskil na die KVBA (Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie) verwys, en het hy beweer dat sy ontslag onbillik was. Op hierdie stadium het hy ook van taktiek verander en het hy toegegee dat hy wel die aanstootlike Facebook opmerking geplaas het.
- Die Kommissaris het die ontslag as substantief en prosedureel billik bevestig. Die werknemer het hierdie beslissing na die Arbeidshof geneem vir hersiening.
- Die Arbeidshof het die hersieningsaansoek van die hand gewys. Die hof bevind dat selfs al sou die werkgewer nie ‘n dissiplinêre kode gehad het nie “sou enige werknemer weet dat dit 'n ernstige oortreding vir 'n lid van een rasgroep sal wees om 'n beroep te doen vir die moord op alle lede van 'n ander rasgroep." In hierdie geval was die werknemer goed vertroud met die bepalings van die werkgewer se dissiplinêre kode. Die kode het ontslag vir die oortreding van rassisme voorgeskryf.
- Die werkgewer het die plig gehad om sy werknemers teen rassistiese wangedrag te beskerm. Die werkgewer was ook konsekwent met hul optrede en “consistently charged people for offences involving racism. The last employee that had been dismissed for racism was charged and dismissed for using the “K” word.”
- Dit was irrelevant dat die werknemer die plasing op Facebook buite sy werkplek en buite sy werksure gemaak het. Die hof bevind dat die rassistiese houding voortduur en dat wanneer hy aan diens is, dit die diensverhouding negatief beïnvloed.
- Hy het sy werkgewer blootgestel aan 'n wesentlike risiko van reputasie-beskadiging en hy het in geheel in stryd met die belange van sy werkgewer opgetree. Dit ingevolge die tweede dissiplinêre aanklag.
Die ontslag van die werknemer bly gevolglik staan.
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.