Eiendomsverkopers: Moenie toekomstige eiendomsbelasting betaal nie
“Cause they told me everybody's got to pay their duesAnd I explained that I had overpaid them” (Sixto Rodriguez in ‘Cause’)
Voordat jy as verkoper jou eiendom aan ‘n koper kan oordra, moet jy ‘n uitklaringsertifikaat van jou plaaslike munisipaliteit verkry wat bevestig dat jy die munisipale belasting ten opsigte van die eiendom ten volle vereffen het.
Wat gebeur egter wanneer die munisipaliteit weier om aan jou die uitklaringsertifikaat uit te reik, voordat jy nie net die uitstaande munisipale belasting, maar ook toekomstige munisipale belasting betaal het nie. Dit wil sê dat jy vir die koper se toekomstige munisipale belasting moet pa staan, waarvoor hy/sy as nuwe geregistreerde eienaar aanspreeklik gaan wees.
‘n Onlangse beslissing van die Appèlhof het darem nou goeie nuus vir verkopers gebring.
Die geskil – ‘n Munisipale belastingrekening van R2.28 miljoen wat onder protes betaal is
-
Die betrokke munisipaliteit se belastingbeleid het bepaal dat hulle die verkoper se munisipale belasting vir die oorblywende finansiële jaar moes inwin voordat hulle uitklaring vir die transaksie sou verleen. Die munisipaliteit het dus aan die verkoper ‘n rekening van R2,281,014.68 voorgelê.
-
Op daardie stadium het die verkoper slegs R1.2 miljoen aan die munisipaliteit geskuld. Ten einde ‘n uitklaringsertifikaat te verkry, het die verkoper die volle bedrag onder protes betaal. Daarna het die verkoper die munisipaliteit vir die terugbetaling van die R1,066,532 wat hy te veel betaal het, gedagvaar.
- Die hof het die toepaslike wetgewing in die guns van die verkoper geïnterpreteer. Die hof bevind dat die munisipaliteit se beleid om toekomstige munisipale belasting in te vorder, in stryd is met die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting. Die munisipale invorderingsbeleid was daarom ongeldig. Die verkoper het te veel betaal. Die hof beveel die munisipaliteit om die verkoper terug te betaal, tesame met rente en regskostes.
Provided by BSA Law | Bruno Simao Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.