Kan jy regulasies oor die gebruik van grond aanwend om 'n buurman se besigheid te sluit?
"'n Slegte buurman is vir jou ‘n ramp, net soos wat ‘n goeie buurman vir jou 'n groot seën is." (Hesiod, digter van Antieke Griekeland)
Jou buurman se besigheid dryf jou tot raserny. Dalk is dit harde musiek wat deurnag speel, of dit is 'n inbreuk op jou swaarverdiende privaatheid, of aanhoudende, onwettige parkering op jou oprit. Wat ookal die oorlas mag wees, is dit regtig onhoudbaar. Jy het alles probeer om dit op ‘n vriendelike basis uit te sorteer – beleefde versoeke, aanbiedinge van bemiddeling, kompromievoorstelle. Niks het gewerk nie en die nagmerrie duur voort.
Jou laaste stap is om jou dan tot die hof te wend. Regsoptrede is nooit goed vir langtermynverhoudings met jou bure nie. As jy geen alternatief het nie, kan jy darem berusting vind in twee onlangse uitsprake van die hooggeregshof. In beide gevalle waar die bure besighede in stryd met die toepaslike grondgebruik bedryf het, het die hof ingegryp en teen hulle opgetree.
Lawaaierige nagklubs gesluit … en harde woorde vir die verhuurder in die verbygang.
- ’n Universiteitskoshuis is voortdurend aan geraas van nabygeleë nagklubs onderwerp. Studente het gekla dat die harde musiek hulle tot in die vroeë oggendure verhoed het om te studeer en om te slaap.
- Die spesifieke eiendom vanwaar die ondernemings bedryf is, is as "Gebruik 6: Besigheid 1" gesoneer, wat beteken dat die perseel as 'n "Plek van Verversing" gebruik kon word, soos 'n kafee of ‘n kroeg. Die spesifieke besighede wat wel bedryf is, het in die munisipaliteit se definisie van "nagklub" geval. Dit het hulle in die kategorie "Plek van Vermaak" geplaas - waarvoor hulle nie gesoneer was nie.
- Hulle het aangevoer dat hul dranklisensie as “taverne” beteken het dat hulle vermaak moes verskaf en dat hierdie sekondêre gebruik van die perseel hulle as 'n "Plek van Vermaak" gekwalifiseer het. Die hof het nie saamgestem nie: "die bepalings van die dranklisensie kan nooit die voorskrifte en bepalings van die Stadsbeplanningskema uitskakel nie".
- Die hof bevind dat die perseel in stryd met die toegelate grondgebruiksregte benut is. Die hof maak die bevel dat die nagklubs moet sluit. As hulle sou besluit om net as “kroeë” sake te doen, mag hulle nie die perseel se toegelate geraasvlakke ingevolge die grondgebruiksregte oorskry nie.
- Laastens het die hof die verhuurder van die perseel ook voor stok gekry. Eerder as om die voorskriftelike bepalings van die huurkontrak af te dwing, het die verhuurder niks gedoen om die flagrante verbreking daarvan aan te spreek nie. Die hof bepaal dat die verhuurder alle stappe moet neem om te verseker dat sy huurder nie weer 'n geraasoorlas veroorsaak nie. Die verhuurder moet ook 'n deel van die regskostes betaal. Hierdie is 'n duidelike waarskuwing aan alle verhuurders dat hulle aanspreeklik gehou kan word vir hulle huurders se wangedrag.
Die goedkeuring vir 'n gastehuis by die see, word tersyde gestel.
- Die eienaar van 'n woning langs die see het besef dat haar bure hul aangrensende sewe-kamer gastehuis bedryf, sonder dat hul munisipale toestemming daarvoor het. Sy het ook verneem dat hulle beplan om die huis te verbou en om dit in ‘n dubbelverdieping gastehuis te omskep. “Daar gaan my privaatheid.”
- Sy was besorg oor die negatiewe impak van 'n besige gastehuis op die algemene karakter van die area, op die toename in verkeersvolumes en op verdere druk op die bestaande stormwaterstelsel van die omgewing. Dit in die lig van die aangeduide beplanning om die gastehuis na agt suites met parkeerplek vir sestien motors te vergroot.
- Die eienaars van die gastehuis het by die plaaslike owerheid aansoek gedoen vir 'n permanente afwyking van hul soneringsvoorwaardes. Die gastehuis is as "enkelresidensieel" gesoneer. Hulle het ook aansoek gedoen vir die opheffing van beperkende voorwaardes op hul titelakte. Die munisipaliteit het geweier om die beperkende voorwaardes op die titelakte op te hef, maar hulle het wel voorwaardelike goedkeuring verleen vir die bedryf van 'n gastehuis.
- Die eienaar van die aangrensende huis was nie hiermee tevrede nie. Sy het haar na die hooggeregshof gewend, wat bevind het dat die dorpsbeplanningskema wat destyds van krag was (voordat die nuwe skema aanvaar is) nie die munisipaliteit magtig om goedkeuring te verleen vir die bou of bestuur van 'n gastehuis op die eiendom nie. Die hof het die munisipale goedkeuring vir die bedryf van die gastehuis tersyde gestel.
- Die voorgenome ontwikkeling en ook die bestaande bedryf van 'n gastehuis op die eiendom is gevolglik as onwettig verklaar. As die eienaars van die gastehuis steeds die perseel as ‘n gastehuis wil bedryf, moet hul nou ingevolge die “nuwe” dorpsbeplanningskema vir die gebied van voor af hul aansoek voorberei en by die munisipaliteit indien. Dis rondte een vir die huiseienaar en 'n duur les vir die buurman.
Voordat jy 'n eiendom koop...
As jy beplan om ’n besigheid van die eiendom wat jy wil koop te bedryf; of as jy juis bekommerd is dat een van jou nuwe bure dit dalk in die toekoms sal doen, moet jy eerstens vasstel wat die toepaslike sonering vir jou eiendom is. Jy moet ook seker maak oor die beperkende voorwaardes op die titelakte wat nog op die eiendom van toepassing is voordat jy finaal teken om met die transaksie aan te gaan.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.