Boedelbeplanning: Onthou jul troeteldiere!
"Die grootsheid van 'n nasie en sy morele vooruitgang kan gesien word in die wyse waarop sy diere behandel word." (Mahatma Gandhi)
Vir baie van ons is ons troeteldiere 'n belangrike deel van ons lewens, ons geliefde dierebabas, ons metgeselle, ons oefenmaats, selfs gewaardeerde terapeute deur moeilike tye.
Wat gaan met ons diere gebeur nadat ons gesterf het? Of as ons self die vermoë verloor om sinvolle besluite oor ons diere se welstand te neem? Tensy jy spesifiek voorsiening maak vir jou geliefde troeteldiere om hierdie situasies aan te spreek, kan hul lot ‘n skielike einde wees. Wanneer jy sterf, moet jou eksekuteur jou troeteldiere as “eiendom” aan jou erfgename oorhandig. As jou erfgename nie vir hulle 'n goeie huis kan gee nie en ook nie enige aanwysings van jou het nie, kan dit beteken dat jou geliefde troeteldiere in 'n diereskuiling beland of uitgesit word.
Hier is 'n paar praktiese maniere om dit te verhoed.
'n "Lewende testament vir troeteldiere"
In jou persoonlike "Lewende Testament" of "Aanwysing oor Mediese aangeleenthede" gee jy jou aanwysings oor die mediese behandeling wat jy moet ontvang, wanneer jy nie meer in staat is om vir jouself te praat nie.
Net so maak dit sin om voorsiening te maak vir iets soortgelyks vir die versorging van jou troeteldiere vir die dag wanneer jy nie meer self sulke besluite kan neem nie.
Jy kan spesifieke aanwysings oor jou diere se versorging nalaat (insluitend instruksies aan die veearts en magtiging vir genadedood onder spesifieke omstandighede) of jy kan 'n vertroude erfgenaam of dierewelsynsorganisasie skriftelik benoem om daardie besluite vir jou te neem. Let daarop dat jy nie geld of bates aan iemand in 'n lewende testament kan nalaat nie – daardie bemakings kan slegs in jou werklike testament gemaak word.
Drie maniere om vir jou diere te sorg, vir wanneer jy nie meer hier is nie:
- 'n Klousule in jou testament: Diere en troeteldiere word as "eiendom" in jou boedel hanteer. Daarom kan jou troeteldiere nie van jou erf nie, maar jy kan wel in jou testament ("Laaste Testament en Wilsbeskikking") jou diere aan ‘n spesifieke erfgenaam bemaak. Saam met hierdie bemaking kan jy dan ook reël vir die finansies om te betaal vir die versorging van jou troeteldiere. Bespreek dit met jou verkose erfgenaam en maak hulle deel van jou beplanning.
- Duidelike opdragte in jou meegaande lêer of brief: Behalwe vir jou testament, kan jy jou wense en aanwysings duideliker maak en kan jy ’n omvattende lêer van belangrike inligting en dokumente vir jou eksekuteur en erfgename nalaat om hulle te help met die afhandeling van jou boedel. Hierin kan jy duidelike aanwysings nalaat oor wat met jou troeteldiere moet gebeur. Jy kan dit ook in 'n meegaande brief uiteensit. Hierdie aanwysings het nie regskrag nie, maar jy kan wel daarmee praktiese leiding en voorkeure aan diegene deurgee wat jou sake vir jou moet afhandel.
- ’n Testamentêre trust: Dit sal in die meeste gevalle oordrewe wees, maar as jy wel fondse wil beskikbaar stel om jou troeteldier(e) vir ‘n tydperk van ‘n paar jaar te versorg, kan dit heel gepas wees om voorsiening te maak vir ’n testamentêre trust. In jou testament skep jy dus die raamwerk van die trust en vir die aanstelling van die trustees met hul bevoegdhede. Jy bemaak die nodige fondse aan die trust saam met jou aanwysings oor hoe die fondse tot voordeel van jou troeteldiere aangewend moet word.
Provided by Everton Dankuru Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.