Krediteure kan ook nou by die hof aansoek doen vir direkteure om as misdadig verklaar te word.
"Iemand wat vinnig is om te leen, is dikwels stadig om te betaal" (Ou spreekwoord)
’n Onlangse hooggeregshofbeslissing beteken dat skuldeisers van maatskappye vir die eerste keer spesifiek toegelaat word om self aansoek te doen vir daardie maatskappy se direkteure om in gepaste omstandighede as “misdadig” verklaar te word. Dit gaan verreikende gevolge vir beide direkteure en krediteure inhou.
Vir direkteure – loopbaanrisiko's vir die toekoms en oor die lang termyn.
Maatskappydirekteure het 'n hele reeks pligte, verantwoordelikhede en risiko's wat hulle moet bestuur. Een risiko wat hopelik net vir ‘n klein hoeveelheid direkteure ‘n werklikheid sal word, is die risiko om ingevolge ons Maatskappywet as "misdadig" verklaar te word. In die geval van ernstige wangedrag kan 'n direkteur gediskwalifiseer word om enige direkteurskap of senior bestuursposisie te beklee vir 'n tydperk wat wissel van sewe jaar tot lewenslank.
In gevalle van wangedrag van ‘n minder ernstige aard kan die hof verskillende bevele uitreik, insluitende diskwalifikasie vir tot vyf jaar, toesig deur 'n mentor, remediërende opleiding, gemeenskapsdiens en betaling van vergoeding.
Die feit dat skuldeisers ook nou by magte is om aansoek te doen dat direkteure misdadig verklaar kan word, bring 'n nuwe vlak van risiko vir direkteure mee.
In die geval van 'n korporatiewe mislukking en ‘n maatskappy wat nie sy verpligtinge kan nakom nie, kan onbetaalde skuldeisers die swaarste hierdeur geraak word. As direkteur is jou beste verdediging teen enige persoonlike aanval om kennis te neem van jou vele fidusiêre pligte en om dit nougeset na te kom.
Vir krediteure – 'n nuwe deur gaan oop.
As 'n skuldeiser, sal jou kanse om maatskappyskuld suksesvol op ‘n persoonlike vlak van 'n maatskappydirekteur te verhaal van 'n paar faktore afhang. Het julle persoonlike borgskappe van die direkteur? Kan julle bewys dat die direkteur op persoonlike vlak nie sy statutêre pligte nagekom het nie? Wees gereed om regsadvies hieroor te verkry.
Nog 'n deur het nou vir julle oopgegaan. Eerstens gaan julle moet kan aantoon dat julle in die openbare belang optree. Dit behoort direkteure wat kanse wil vat, weer te laat dink voordat hulle mense bedrieg of om jou (en krediteure en die algemene publiek) aan verliese te wyte aan korporatiewe wangedrag bloot te stel.
- In hierdie saak is ‘n maatskappy gelikwideer wat nie sy skulde kon betaal nie. Die skuldeisers van die maatskappy het hof toe gegaan om die direkteure van die maatskappy persoonlik aanspreeklik te hou vir onbetaalde skulde van meer as R370 miljoen.
- Die skuldeisers het die hooggeregshof terselftertyd genader vir ‘n bevel om die direkteure misdadig te verklaar. Een van die direkteure het beswaar gemaak en aangevoer dat skuldeisers nie die bevoegdheid het om so 'n aansoek te bring nie. Die Maatskappywet maak voorsiening vir 'n spesifieke lys van belanghebbendes om hierdie roete te volg - 'n aandeelhouer, direkteur, maatskappydirekteur, die sekretaris of voorgeskrewe beampte, geregistreerde vakbond, werknemerverteenwoordiger, die Oornameregulasiepaneel, sommige staatsorgane en die CIPC (Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom).
- Die hof het egter met die skuldeisers saamgestem dat hulle in hul hoedanighede as krediteure ingevolge 'n ander bepaling van die Maatskappywet wel so ‘n aansoek kan bring - wat enigeen toelaat om "in die openbare belang op te tree, met verlof van die hof". Op die feite van hierdie spesifieke saak het die hof aan hierdie skuldeisers verlof verleen om ingevolge hierdie spesifieke bepaling aan te gaan met hul aansoek teen die direkteure.
- Die hof het heelwat faktore in ag geneem om hierdie beslissing te maak. Dit sluit in die (nog onbewese) ernstige aantygings wat teen die direkteure gemaak is, soos – growwe verbreking van vertrouensplig oor 'n lang tydperk met aansienlike bedrae geld wat betrokke was, ernstige wandade insluitend growwe misbruik van hul posisie asook growwe nalatigheid, die groot aantal direkteurskappe wat die direkteure beklee het, asook die indirekte betrokkenheid van openbare entiteite en openbare fondse wat ter sprake was – die lys gaan aan.
- Die maatskappydirekteur het aangevoer dat skuldeisers op hierdie manier die hofverrigtinge sal gebruik om toegewings en betalings uit direkteure te forseer en af te pers. Die hof maak dit duidelik dat elke saak steeds op eie meriete en op die spesifieke feitestel oorweeg moet word. Die blote feit dat skuldeisers direkteure persoonlik dagvaar, beteken nie noodwendig dat die betrokke maatskappykrediteure sinies en opportunisties optree nie.
- Jy sal wel moet bewys dat jy in die openbare belang optree en nie net in jou eie belang as skuldeiser nie. Hier het die skuldeisers suksesvol aangevoer dat die algemene publiek en krediteure beskerm moet word in hul handelinge, transaksies en ooreenkomste met hierdie maatskappye en beslote korporasies waarvan die misdadige verweerders onderskeidelik direkteure en/of lede van is. Die beskerming en ingryping van die hof se kant af sal die onskuldige publiek ten minste kan beskerm teen die verweerders wat hul misdadige optrede in ander entiteite en met ander transaksies kan herhaal.
Provided by Everton Dankuru Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.