Drie maniere om jouself teen die moeilike buurman in jul kompleks te beskerm.
“’n Slegte buurman is 'n euwel, net soos wat 'n goeie buurman 'n groot seën is." (So het die Griekse digter en filosoof Hesiodus dit in 700 vC al opgesom.)
Dit lyk dikwels of elke gemeenskapskema ten minste een moeilike buurman(-vrou) het wie hom of haar daarin verlustig om beswaar te maak teen alles, wat met elke geleentheid met inwoners en bestuur baklei en wat beledigend en aggressief raak wanneer hulle nie hul sin kry nie.
Wat kan jy doen om jouself en jou gesin te beskerm as jy in 'n kompleks woon en van tyd tot tyd deurloop onder die teistering van so ‘n buurman?
Dit is natuurlik die heel beste as die bure kan verhoed dat 'n lang en bitter vete in die eerste plek onder mekaar ontwikkel. As jy reeds sonder sukses probeer het om die dispuut of situasie oor 'n koppie koffie te beredder, wat is dan jou volgende stappe?
Die teisterende buurman en die beskermingsbevel.
Twee inwoners van 'n kompleks het met hul dispuut in die hooggeregshof geëindig. Dit was nadat 'n landdroshof 'n tussentydse beskermingsbevel uitgereik het wat een inwoner, 'n man, verbied het om enige kontak met 'n ander inwoner in die kompleks, 'n vrou, te hê. Dit nadat hy haar aan verbale en fisieke mishandeling, dreigemente en teistering onderwerp het.
Die hof se uitspraak sê nie waar hierdie strydende bure woon nie. Dit bevat ook nie veel besonderhede oor die konflik tussen hulle nie, behalwe dat die slagoffer fisiese beserings opgedoen het. Die detail sou dalk interessant gewees het, maar die beslissing is belangrik oor prosedurele redes. Die hof bevestig dat ons wetgewing aan kompleksbewoners twee, en in sommige gevalle drie, opsies vir beskerming bied.
Kom ons stel ondersoek in…
- Die Gemeenskapskema-ombuddiens
Die Gemeenskapskema-ombuddiens (CSOS – “Community Schemes Ombud Service”) beskik oor wye magte en bevoegdhede om te arbitreer in geskille rakende komplekse en ander gemeenskapskemas. Hierby ingesluit is die bevoegdhede, met betrekking tot "gedragskwessies", om te beveel "dat bepaalde gedrag of aksies as ‘n steurnis of oorlas verklaar word" en dan verder te kan gelas dat "die betrokke persoon op 'n bepaalde manier moet optree, of selfs daarvan moet weerhou om op ‘n sekere manier op te tree."
In teorie is dit moontlik, maar ongelukkig is hierdie proses van die Gemeenskapskema-ombuddiens nie altyd so geredelik toeganklik soos wat dit behoort te wees nie. Dit is goed dat die hooggeregshof in hierdie spesifieke saak die slagoffer toegelaat het om die meer onmiddellike en direkte roete na geregtigheid te volg deur die tweede opsie te gebruik.
Die uitspraak is rigtinggewend. Die reël was nog altyd dat jy eers verplig sou wees om die Ombuddiens te nader in enige geval waar dit jurisdiksie het. As jy dit nie doen nie, en jy besluit om reguit hof toe te gaan, loop jy die risiko dat jou saak uitgegooi sou word, omdat jy nie die regte roete gevolg het nie. Daar is wel uitsonderings op hierdie reël ...
- Die Wet op Beskerming teen Teistering
Die Wet op Beskerming teen Teistering bied vir jou en jou gesin 'n eenvoudige en bekostigbare oplossing, wat jou toelaat om aansoek te doen vir 'n beskermingsbevel by jou plaaslike landdroshof om die teisteraar te dwing om hul onwettige gedrag onmiddellik te staak. Die wet kan streng toegepas word, met oortreders wat inhegtenisneming en boetes of tronkstraf van tot vyf jaar in die gesig staar.
"Teistering" word in die Wet op Beskerming teen Teistering wyd gedefinieer as enige gedrag wat skade veroorsaak of wat dreig om skade te veroorsaak hetsy geestelik, sielkundig, fisies of ekonomies. Teistering sluit ook agtervolging, kuberbekruipery, seksuele teistering en fisiese of elektroniese kommunikasie in.
Soos hierdie Hof dit gestel het, "Die skade wat die wetgewer beoog om uit te skakel ... is die heersende gewelddadige gedrag in ons samelewing en in die besonder geslagsgebaseerde geweld". In hierdie geval het die hof dit beslis relevant geag dat die klaagster in hierdie saak 'n vrou is, en haar teisteraar 'n man.
- Die Wet op Gesinsgeweld
Indien die teisteraar en die slagoffer in 'n "gesinsverhouding" verkeer, is daar 'n derde opsie wat nie in die uitspraak genoem is nie, aangesien dit nie in hierdie geval van toepassing was nie: die beskerming wat die Wet op Gesinsgeweld aan ‘n slagoffer bied. Hierdie beskerming is vinnig, toeganklik en effektief, en die definisies van beide "gesinsverhouding" en "gesinsgeweld" word wyd beskryf.
Wanneer is bure in 'n kompleks beperk tot Opsie 1? Die hooggeregshof gee leiding.
Hierdie dispuut het in die hooggeregshof beland omdat die spesifieke landdros van mening was dat die aansoek voortydig in die landdroshof geplaas was. Volgens die landdros moes die spesifieke dispuut eers na die Gemeenskapskema-ombuddiens (CSOS) verwys gewees het, want die gedrag waaroor gekla word, was 'n “oorlas” wat beteken het dat dit onder die jursidiksie van die ombuddiens geval het en daar bereg moes word.
Die hooggeregshof het op appèl bevind dat dit nie so eenvoudig was nie. Niks het die landdros gekeer om die aansoek gebaseer op die Wet op Beskerming teen Teistering vanuit die staanspoor aan te hoor nie. Dit was die slagoffer se keuse om self te besluit watter een van die opsies om te kies. In die uitspraak het die hof opgemerk dat "... die geskille wat ingevolge die Gemeenskapskema-ombuddiens hanteer word, is gewoonlik dié wat die welstand van 'n gemeenskapskema aangaan, in teenstelling met dispute tussen individuele eienaars of inwoners ". Dit is miskien 'n aanduiding dat ons howe 'n direkte benadering tot 'n hof sal toelaat waar "teistering" (soos gedefinieer) 'n direkte impak op jou as 'n individu het, eerder as wat dit jou slegs raak as 'n inwoner van die kompleks.
Die resultaat.
Die saak word daarom terugverwys na die landdroshof om die saak tussen die strydende bure aan te hoor. Die landdros sal, nadat hy beide partye en enige verdere getuienis aangehoor het, dan moet besluit of hy die beskermingsbevel finaal gaan maak en of hy dit in geheel gaan onthef.
Wat is die regsremedie wat jy moet kies?
As jou buurman se gedrag neerkom op persoonlike "teistering" of selfs "gesinsgeweld" sowel as "oorlas", het jy waarskynlik 'n keuse van al drie hierdie opsies en kan jy kies watter een vir jou en jou gesin die vinnigste en doeltreffendste beskerming gaan gee. As jou buurman se gedrag nie persoonlike teistering of gesinsgeweld insluit nie, is ‘n verwysing na die Gemeenskapskema-ombuddiens die meer gepaste opsie.
Het jy 'n buurman wat jou teister of op ongewenste wyse lastig val? Ons kan help.Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.