Hoe kan jy jou erfgename se erflatings teen hul skuldeisers beskerm?
"Die enigste persoon wat in tye van teëspoed nader aan jou bly as 'n vriend, is jou skuldeiser." (Onbekend)
Kom ons aanvaar dat jy alles gedoen het wat jy kan om jou geliefdes finansieel veilig te laat nadat jy gesterf het. Jy het genoeg bates nagelaat sodat jou naasbestaandes ‘n goeie begin kan maak, 'n geldige testament opgestel ("Laaste Testament en Wilsbeskikking"), en 'n betroubare en doeltreffende eksekuteur gekies om jou bestorwe boedel vir jou te administreer en te beredder. Jy mag dalk dink dat jy alles gedoen het wat jy kan om hulle te help en te beskerm.
Wat as jy iets gemis het - iets wat ‘n wesenlike invloed op jou beplanning en jou erfgename kan maak?
Insolvensie en eise van skuldeisers.
Ons praat hier van een of meer van jou erfgename wat hulself met ernstige skuld bevind. Dit kan natuurlik met enige iemand gebeur en geen besigheid is altyd veilig nie. Soos die onverwagse inperkings van die pandemie vir ons gewys het, kan selfs die verstandigste mense hulself onverwags in finansiële moeilikheid bevind. Die gevaar is dat jou erfgename se persoonlike boedels gesekwestreer kan word, of dat hul skuldeisers op hul bates beslag gaan lê. Dit kan meebring dat hul erflating ook ingetrek kan word - en dan vir altyd vir jou familie verlore kan wees.
Daar is wel maniere om hierdie risiko te bestuur terwyl jy steeds verseker dat daar na jou erfgename omgesien word. Watter roete die beste vir jou sal wees, sal afhang van die situasie en sal toegepaste regsadvies benodig. Hier is die belangrikste opsies:
- Rig 'n diskresionêre trust op: Jy maak voorsiening vir die oprigting van 'n trust waarin jy alles, of 'n gedeelte van jou boedel, of gespesifiseerde bates nalaat. Hierdeur verseker jy dat die erflating deur trustees bestuur word tot voordeel van jou erfgename, en dat die erflating buite bereik van hul skuldeisers sal wees – as jy dit reg doen.
Die keuse van die regte vorm van trust (die mees algemene tipes is lewende of "inter-vivos" trusts aan die een kant en testamentêre trusts aan die ander kant) vereis noukeurige oorweging met professionele hulp en leiding. Dit is belangrik om die regte struktuur vir die trust, die bates daarin en die bestuur van die trust te gebruik.
Belasting en ander praktiese aspekte moet ook deeglik oorweeg word. In die konteks van die beskerming van bates teen krediteure, is dit noodsaaklik om die trust 'n "diskresionêre" trust te maak. Dit is die plig van die trustees in 'n diskresionêre trust om te besluit of en wanneer bates en toedelings aan begunstigdes gemaak moet word, eerder as wat die erflating outomaties in jou erfgename se boedels moet val (en dan vatbaar sal wees vir beslaglegging deur skuldeisers).
- Voeg 'n "insolvensieklousule" in jou testament in: Dit vereis noukeurige bewoording deur 'n professionele persoon. Ons howe het al uitdruklik bevind dat dit nie vir ‘n erflater toelaatbaar is om bloot 'n klousule of voorwaarde in te sluit wat skuldeisers sal verhoed om op 'n erfgenaam se erflating beslag te lê, wanneer daardie erfgenaam reeds sy of haar "vorderingsregte op daardie erfenis verkry het nie."
Die klousule moet voorsiening maak vir die spesifieke erflating om onder spesifieke omstandighede anders as normaal hanteer te word. Dit hou byvoorbeeld in dat jy voorsiening maak dat as jou erfgenaam insolvent is ten tyde van jou dood, die erflating dan eerder aan 'n ander persoon bemaak word. Of dit maak dalk voorsiening vir die eksekuteurs om uiting te gee aan jou wense met 'n diskresie wat jy nalaat om die erfenis na iemand anders of selfs na ‘n trust te herlei? Kry regshulp om jou te help met die opstel van so 'n klousule om jou erfgename te bevoordeel en om enige aansprake van 'n skuldeiser of van die trustee van 'n insolvente boedel af te weer.
- Skep 'n vruggebruik of fideicommissum oor bates: As jy 'n bate (gewoonlik onroerende eiendom) aan jou erfgename wil nalaat, kan jy vir hul beskermde regte skep onder 'n "vruggebruik" of "fideicommissum". Hierdie is tegniese terme en jy moet die toepaslike wetlike, praktiese en belastingimplikasies verstaan en in ag neem wanneer jy onder leiding van ‘n kundige die regte besluite hieroor neem.
Die laaste opsie is om dit aan jou erfgename oor te laat om hul erfporsies te repudieer (verwerp) nadat jy dood is. Dit is nie 'n ideale oplossing nie, want dit vereis van jou erfgename om beide die regsposisie te verstaan en om op die regte tyd afstand te doen van hul erflating.
Jou testament moet ook gereeld hersien word.
Daar is baie goeie redes om jou testament gereeld te hersien. Die belangrikste is sekerlik enige verandering in jou persoonlike lewensomstandighede, dan ook nuwe wetgewing en veranderende belastingimplikasies, die lys gaan aan. Die risiko van skuldeisers is natuurlik nog 'n rede soos hierbo vermeld. Terwyl jy hierdie hersiening doen, oorweeg dan of enige van jou erfgename dalk 'n besondere risiko van finansiële nood openbaar. Oorweeg dan hoe jy hierdie risiko ten beste kan bestuur. Laat weet gerus as ons hiermee kan help!
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.