Hoe raak die nuwe wet jou besigheid oor die aanmelding van korrupsie?
“In herinnering van Madiba se nalatenskap, sal ons voortgaan om 'n meedoënlose oorlog teen korrupsie te voer...” (President Cyril Ramaphosa)
Jy het seker al gelees van die nuwe wysiging aan die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite (Pocca) wat swaar strawwe voorskryf vir enige iemand wie versuim om korrupsie aan te meld. As jy dit wel gesien het, het jy dalk bloot aanvaar - "Dit is nie op my van toepassing nie, ek het maar 'n klein besigheid".
Jy sal dan verkeerd wees! Kom ons kyk op wie die nuwe wet van toepassing is, wat dit van jou vereis, die risiko wat jy loop as jy nie behoorlik aandag gee daaraan nie, en ook hoe jy hierdie risiko moet bestuur.
Op wie is die nuwe verslagdoeningsvereiste van toepassing?
Nie net groot maatskappye en multi-nasionale besighede nie. Dit is van toepassing op alle lede van "ingelyfde entiteite in staatsbesit" en ook op alle persone en entiteite in die private sektor. Die definisie is inderdaad baie wyd en dit sluit alle tipes en groottes besighede in, van eenmansaak af, alle soorte entiteite groot en klein, alle maatskappye, elke "vereniging van persone" en elke "ander regspersoon" in.
Kortom, dit is op jou en op jou besigheid van toepassing!
Wat vereis dit van jou?
Om dit eenvoudig te stel: Jy moet enige korrupsie of poging tot korrupsie rapporteer. Ons weet almal min of meer wat met "korrupsie" bedoel word. As julle 'n volledige, regstegniese definisie hiervan benodig, kan ons wel van hulp wees hiermee.
Prakties moet jy weet dat die wet van toepassing is op enige ooreenkoms of aanbod deur 'n "geassosieerde" persoon (insluitend werknemers en ook onafhanklike kontrakteurs) om aan enigiemand anders enige onregmatige "vergoeding" te gee. "Vergoeding" word so wyd gedefinieer dat dit enige moontlike vorm van geldelike of nie-geldelike voordeel (of die vermyding van nadeel) waaraan jy kan dink, reeds insluit. Die betrokke ooreenkoms of aanbod moet wel ten doel hê om 'n besigheidsvoordeel van een of ander aard te verkry of te behou.
Hier is ook ‘n verdere waarskuwing. Die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite (Pocca) bestraf nie net werklike kennis van korrupsie en oortredings nie, maar hanteer ook konsepte van mense wat "moes geweet het" en mense "wat ander kant toe gekyk het".
Om dit eenvoudig te stel, jy moet enige vorm van “korrupsie” rapporteer. Klaar.
Watter boetes is van toepassing?
Hier is eintlik geen beperkinge ter sprake nie. Dink aan onbeperkte boetes en lewenslange tronkstraf! In praktyk sal ons howe natuurlik die strawwe aanpas om by die misdaad en by die spesifieke omstandighede in te pas. Die slotsom: hier is duidelike aanduidings dat die owerhede baie ernstig is hieroor, so wees gewaarsku.
Hoe moet jy jouself beskerm?
Die nuwe wet maak drastiewe wysigings. Hier is wel ‘n ingeboude verweer ter sprake. Om aanspreeklikheid vry te spring, moet jy kan bewys dat julle "voldoende prosedures in plek gehad het, wat ontwerp was om korrupsie te voorkom". Hier is geen verdere definisie hieroor nie, so dit laat dit aan julle oor om jul gesonde verstand te gebruik op grond van jul spesifieke besigheid en omstandighede. Kenners stel voor dat ons, om veilig te wees, by die Verenigde Koninkryk hieroor aanklop. Daar volg hulle die sogenaamde "Ses Beginsels" – proporsionaliteit (prosedures moet aangepas word om voorsiening te maak vir die vlak van die risiko ter sprake), topvlak-verbintenis, risiko-evaluering, omsigtigheidsondersoeke, kommunikasie en laastens monitering en oorsig.
Het julle dalk hulp nodig met die opstel van 'n protokol om korrupsie te voorkom? Ons is gereed om hiermee te help.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.