Beskerm jou werknemers teen teistering en misbruik – of betaal die prys.
“Dit verg leierskap om veiligheid te verbeter.” (Jackie Stewart, Formule 1-legende)
Een van jou sleutelpligte as ’n werkgewer is om ’n veilige werksomgewing vir jou werknemers te skep. Dit hou natuurlik in dat jou werknemers teen gevalle van teistering en mishandeling beskerm sal word. Soos 'n onlangse uitspraak van die hooggeregshof dit duidelik illustreer, sal dit ‘n duur fout wees om nie aan hierdie basiese vereiste te voldoen nie.
Wie is hier ter sprake?
Die werkgewer: 'n Privaat hospitaal in Bloemfontein, wat deel is van 'n nasionale gesondheidsorggroep.
Die werknemer: 'n Teaterbestuurder in beheer van chirurgie. Sy is aangestel om die hospitaal se operasieteaters te bestuur, oorsig te hou oor die teaterpersoneel en om pasiëntesorg in die hospitaal se teaters te monitor.
Die chirurg: Hy het sy privaat praktyk by hierdie hospitaal bedryf en het operasies in hierdie hospitaal se chirurgiese teaters uitgevoer.
Elf jaar se verbysterende mishandeling.
Om dit in hooftrekke op te som, die werknemer was vir elf jaar die teiken van die chirurg se mishandeling:
- Elf jaar se verbale mishandeling waarin die chirurg se aggressiewe persoonlikheid en woedebuie uiting gevind het in sy “vloektaal, beledigings, lasterlike taal en obseniteite gerig aan en gemaak in die teenwoordigheid van die teaterbestuurder, terwyl hy ook in die teenwoordigheid van ander operasieteaterpersoneel en selfs lede van die publiek was”.
- Die hof het die chirurg se gedrag as "walglik" opgesom – dit is nie verbasend nie, in die lig van die werknemer se getuienis dat die chirurg een keer so tekere gegaan het dat hy 'n pasiënt se kolon na haar gegooi het, tesame met 'n string vloekwoorde.
- Slegs haar pligsbesef, en haar simpatie met die pasiënte (baie van hulle was kankerpasiënte wat dringend operasies nodig gehad het), het haar in staat gestel om die deurlopende mishandeling, lasterlike opmerkings en beledigings so lank te verduur.
- Oor die jare het sy talle klagtes by die hospitaal ingedien, beide namens haarself en namens ander teaterpersoneel (insluitend verskeie skropverpleegsters wat geweier het om met hierdie chirurg te werk), sonder dat die hospitaal enige gepaste stappe geneem het.
- Sy het getuig dat die hospitaal aan haar gesê het dat sy en die ander personeel “geen klagtes teen 'n mediese dokter mag lê nie”, wat voortdurend as 'n onaantasbare winssentrum van die hospitaal voorgehou is.
- Dit is belangrik om daarop te let dat, alhoewel die chirurg nie 'n hospitaalwerknemer onder direkte beheer van die hospitaal was nie, die hospitaal wel die kontraktuele reg gehad het om die chirurg se "toelatingsregte" by die hospitaal vir enige rede te herroep, insluitend "mishandelende gedrag of teistering".
Die teaterbestuurder het die hospitaal gedagvaar omdat dit haar nie in hierdie tyd enigsins beskerm of gehelp het nie. Sy het byna agt jaar se litigasie verduur. Sy het uiteindelik 'n toekenning van R300 000 as skadevergoeding aanvaar vir die vernedering, skok, angs en vrees wat sy gely het. Dit het ingesluit "ernstige sielkundige en psigiatriese trauma wat manifesteer as post-traumatiese stressindroom en ernstige depressiewe versteuring waarvoor sy psigoterapeutiese behandeling benodig".
Die hof het haar skadevergoedingstoekenning van R300 000 bekragtig, tesame met 'n groot deel van haar regskostes, insluitend 'n toekenning van ‘n gedeelte van hierdie regskostes op die bestraffende skaal soos tussen prokureur en kliënt.
Die hospitaal het (uiteindelik) betaal. Wat dan van die chirurg?
As jy 'n werknemer is wat ook die slagoffer van hierdie soort mishandeling is, sal jy wonder of jy die persoon wie vir die pyn verantwoordelik is ook direk kan dagvaar, benewens jou werkgewer. Die antwoord is 'n besliste ja.
Hier het die teaterbestuurder ook die chirurg vir skadevergoeding gedagvaar. Hy het egter gesterf voordat die saak afgehandel is. Sy kon wel 'n vertroulike skikking van haar eis beding met die eksekuteur van sy bestorwe boedel.
Die uiteinde van die saak.
Jou werknemers verdien om in 'n veilige en beskaafde omgewing te werk. Dit kan julle bereik deur gesonde beleide in plek te hê – en dit konsekwent af te dwing, ongeag die senioriteit van die personeellid, of hul waarde vir jul besigheid.
Die negatiewe mediadekking wat met hierdie verhoor gepaard gegaan het, sou hierdie hospitaal se aansien ‘n knou gegee het. Hierdie hofsaak het in die openbare oog afgespeel en die reputasieskade wat hulle hierdeur gely het, het beslis die R300 000 plus regskostes oorskry wat die hospitaalgroep uiteindelik aan die (afgetrede) slagoffer moes betaal.
Woorde wek, maar dade trek.
Ons kan almal leer uit die hospitaalgroep se foute. Aan die positiewe kant het dit wel gedetailleerde beleide in plek gehad om hul zero-toleransie-benadering tot teistering uiteen te sit, tesame met ‘n duidelike grieweprosedure. Ongelukkig het die hospitaal nie hul eie beleide gevolg nie en ook nie konsekwent toegepas nie.
Moenie dieselfde foute maak nie.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.