Hoe om jou kinders se erflating te beskerm en seker te maak dat dit nie in die Voogdyfonds beland nie.
“Live each day as if it were your last… because one day, you’ll be right.” (Benny Hill)
Dit is menslik om besluite rakende ons eie sterflikheid te wil uitstel. As dit egter kom by reëlings en die beskerming van ons geliefdes, vir die dag wanneer ons nie meer hier is nie, is dit iets wat nie uitgestel kan word nie. Daarom is jou testament (“Laaste testament en wilsbeskikking”) 'n noodsaaklikheid. Iets wat jy gereeld moet hersien en op datum bring. Niemand – oud of jonk, gesond of siek, welgesteld of met beperkte vermoëns – kan seker wees hoe lank hy of sy hier gaan wees nie.
Daar is sekere klousules wat in jou testament moet wees. Een potensiële risiko, wanneer dit by jou kinders se erflatings kom, is die regering se Voogdyfonds. Die Voogdyfonds het 'n historiese en noodsaaklike funksie gehad om te vervul, maar dit het die afgelope paar jaar vir die verkeerde redes in die media verskyn. Dit sluit in voortdurende verliese as gevolg van kubermisdadigers en bedrieërs (die mees onlangse gerapporteerde verlies was R17 miljoen), terwyl die Spesiale Ondersoekeenheid besig is om bewerings van wangedrag en korrupsie by die Voogdyfonds te ondersoek.
Hoe raak dit jou? Wel, as jy minderjarige kinders het (of dalk toekomstige minderjarige erfgename, soos kleinkinders) wil jy seker maak dat jou testament professioneel opgestel word om enige kans te vermy dat jou kinders se erflating in die Voogdyfonds beland.
Om “intestaat” te sterf beteken jy gaan 'n staatsbeheerde entiteit met jou kinders se erflating moet vertrou.
As jy sterf sonder ’n testament, beteken dit jy sterf “intestaat”, wat inhou dat ons wetgewing bepaal hoe jou boedel hanteer gaan word. Jy het dan jou kans verbeur om self jou vertroude eksekuteur te kies, jy het jou kans verbeur om te spesifiseer hoe jou boedel aan jou geliefdes verdeel moet word, jy het dalk die kans verbeur om ’n voog vir jou kinders te benoem. Dalk die belangrikste van alles, het jy die geleentheid verbeur om self reëlings te tref om jou minderjarige kinders se erfporsies te beskerm, soos wat jy goeddink.
As jy nie uitdruklik in jou testament voorsiening maak vir 'n meganisme om na jou kinders se erflatings om te sien totdat hulle meerderjarig, oftewel 18 jaar oud word nie, (of selfs ouer as dit), gaan daardie eflating en fondse heel waarskynlik aan die regering se Voogdyfonds oorbetaal moet word.
Wat behels die Voogdyfonds?
- Die geskiedenis en funksie van die Voogdyfonds is lofwaardig – dit is geskep om geld (insluitend erflatings) te hou en te beskerm vir minderjariges en ander mense wat wetlik nie in staat is om hul eie sake te bestuur nie. Vir hierdie kwesbare mense wie se geld in die fonds beskerm word, lewer dit, in beginsel, 'n waardevolle diens.
- Alle gelde word by die Openbare Beleggingskommissie (“PIC”) belê en verdien rente teen 'n koers wat van tyd tot tyd deur die Minister van Finansies bepaal word.
- Die Voogdyfonds word jaarliks geoudit en word kosteloos deur die Meester van die Hooggeregshof bestuur (eintlik bestuur elke aparte Meesterskantoor regoor die land 'n aparte fonds).
- 'n Minderjarige se voog kan die plaaslike Meester nader om opgeloopte rente (en in gevalle van nood tot R250 000 van die erflating se kapitaal) oor te betaal vir die minderjarige se onderhoudsbehoeftes.
So, wat is dan die probleem?
Jou minderjarige kinders se erfgeld (of ander erfgename se erflating) word gehou in 'n fonds wat geoudit word en wat gratis bestuur word. Die fonds is onder beheer van senior, onafhanklike staatsamptenare. Sommige mense vind dit minder kommerwekkend as van die moontlike alternatiewe, maar dit is geensins ideaal nie -
- Onlangse mediaberigte van kubermisdaad, diefstal, bedrog, polisie-ondersoeke na bewerings van wangedrag en korrupsie, ensovoorts wek skaars vertroue in die Voogdyfonds se vermoë om jou kinders se erfporsies te bestuur en te beskerm, selfs al is daar net ‘n paar oneerlike werknemers by die Voogdyfonds betrokke.
- Jou kinders se voog gaan deur administratiewe prosesse moet gaan om fondse te trek vir onderhoud, opvoeding, klere, mediese koste ensovoorts. Vertragings en wanfunksionele afdelings wat die meeste Meesterskantore na bewering teister, gaan dit nie makliker maak nie.
- Gelde in die Voogdyfonds verdien tans 'n staatsvasgestelde rentekoers van 4,25% per jaar. Dit is minder as die inflasiekoers en minder as wat fondse in ‘n diskresionêre beleggingsfonds sal verdien.
- Wanneer jou kinders agtien word, word hulle weer gekonfronteer met die burokratiese uitdaging om toegang te kry tot die gedeelte van hul erfgeld wat nog oor is.
Wat is dan die beste oplossing?
Die goeie nuus is dat jy jou minderjarige kinders maklik teen hierdie risiko's en negatiewe faktore kan beskerm. Sorg vir twee noodsaaklikhede -
- Maak eerstens seker jy laat 'n geldige testament na, wat professioneel opgestel is om al jou geliefdes te beskerm, veral die kwesbaarstes, soos jou minderjarige kinders en minderjarige erfgename.
- Maak verder seker dat jy in jou testament 'n voog vir jou kinders benoem. Sluit ook 'n meganisme in om hul erfporsies te beskerm en om die risiko uit te sluit, dat hul geld in die Voogdyfonds inbetaal moet word.
Die mees algemene beskermingsmeganisme is om ‘n trust te gebruik - óf 'n bestaande trust (indien dit geskik is vir die doel), of 'n nuwe "testamentêre trust" wat sal ontstaan wanneer jy sterf.
Een alternatief is om voorsiening te maak vir die kinders se voogde om hul erflatings vir hulle te administreer, maar 'n trust is ‘n beter, veiliger en meer praktiese opsie. Hoe dit ook al sy, jy moet wel seker maak dat jou testament se bepalings jou wense in daardie verband korrek en duidelik uiteensit.
Hou ook in gedagte dat enigiets wat met trusts te doen het, toegepaste en professionele advies verg – hier is ingewikkelde en verweefde wetlike, finansiële en belastingoorwegings betrokke.
In ‘n neutedop – laat jou prokureur jou testament opstel (of jou bestaande testament vir jou deurgaan en opdateer) om te verseker dat jou kinders se erfporsies behoorlik beskerm word en nie in die Voogdyfonds beland nie.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.