|
Nakoming van hofbevele. ‘n Geval van meneer Slim “vang sy baas!”
In this article we will look at the view taken by the Appeal Court Judges* where a litigant that was earlier ordered in a judgement to demolish part of a building which was unlawfully constructed on its property and who has unilaterally taken steps to ensure that the structure would thereafter comply with the zoning requirements pertaining to the particular erf (which were contravened up to that stage) thereby circumventing the need to comply with the court order by taking other actions that in its mind would ex post facto render its unlawful endeavour, lawful.
Die feitestel in die voormelde saak was kortliks soos volg. Die Appèlhof het op appèl deur die Respondent ‘n bevel van die Gautengse Hooggeregshof bevestig wat gelas het dat die Respondent ‘n gedeelte van sy gebou moes afbreek ten einde te voldoen aan sonering-vereistes ten opsigte van dekking wat oorskry was met betrekking tot die betrokke erf. Die Respondent, ene meneer Slim, het egter besluit dat dit ‘n beter opsie vir hom sou wees om eerder ‘n aangrensende eiendom aan te koop en dit met die oorspronklike erf te konsolideer met die vertroue dat die “oorspronklike sonde” sodoende sou verval.
In ‘n artikel wat kort daarna verskyn het in die dagblad The Star, word berig dat meneer Slim, direkteur van die Respondent bevestig het dat hy nie van plan was om aan die hofbevel te voldoen nie, wat van hom verwag het om ‘n gedeelte van die gebou te sloop ten einde binne die dekking vereiste te val. Volgens die berig het hy aangevoer dat die nuut-geskepte gekonsolideerde erf, die vorige erf, vervang het en dat die gebou op daardie nuut-geskepte erf vir alle doeleindes voldoen aan die sonering-vereistes en spesifiek omdat die gebou nou minder as sestig persent van die oppervlakte daarvan bedek en die konsolidasie boonop deur die plaaslike owerheid goedgekeur was.
Meneer Slim se buurman, ten gunste van wie die Appèlhof die bevel gemaak was, wou egter nie vir hierdie truuk val nie en het ‘n aksie teen die Respondent ingestel vir ‘n bevel van minagting van die hof.
Die vraag voor die Hof was of meneer Slim se optrede neerkom op 'n opsetlike verwerping van die bevel wat die Appèlhof gemaak het en om by hierdie antwoord te kom, moes die regters die volgende vasstel:
- Eerstens moes bepaal word of die bevel, soos uitgereik deur die Appèlhof, by behoorlike interpretasie, inhoudelik toelaat dat dit deur die Applikant afgedwing sou kon word, en
- Tweedens, of die Hof as 'n beginselsaak en in openbare belang, kan toelaat dat 'n litigant teen wie ‘n bevel gemaak was, eensydig kan weier om aan 'n hofbevel te voldoen, ten spyte daarvan dat die uitslag soos beoog deur die betrokke hofbevel op ‘n ander wyse bereik was.
In die uitspraak bevestig die regters dat hul gelei was deur die beginsels soos neergelê in die uitspraak van die Appèlhof in die gerapporteerde saak Fakie NO v CCII Systems (Pty) Ltd 2006 (4) SA 326 (SCA) waarin bepaal was dat “a wilful and mala fide defiance must be proven beyond a reasonable doubt”. Daar is in die voormelde saak bevind dat daar egter geen bewyslas rus op 'n persoon wat van die minagting beskuldig word nie, maar dat die ontwikkeling van die gemenereg egter vereis dat die applikant nie getuienis hoef te lei ten aansien van die gemoedstoestand, of die motief van die respondent nie. Sodra die applikant dus die bestaan van al die drie die vereistes bewys het (naamlik dat die bevel uitgereik was, dat betekening daarvan plaasgevind het, asook die nie-nakoming daarvan), sal daar aan die vereistes van minagting voldoen wees, tensy die respondent bewyse gelewer het wat redelike twyfel laat ontstaan dat die nie-nakoming inderdaad opsetlik en in slegte trou is.
Die Hof het aangedui dat die Respondent nie enige verduideliking aangebied het vir die nie-nakoming van die bevel nie (soos byvoorbeeld onmoontlikheid van prestasie nie), maar inderdaad erken het dat daar geen stappe geneem was om daaraan te voldoen nie. In sy beëdigde verklaring het meneer Slim aangevoer dat die Appèlhof se bevel “moot” was, aangesien die erf, ten aansien van die bevel gemaak was, eintlik tegnies nie meer bestaan het nie, aangesien dit na konsolidasie van wese verander het.
Meneer Slim het ook namens die Respondent aangevoer dat daar nie sprake van minagting ten opsigte van die nie-nakoming van die bevel kon wees nie, omdat die bevel geen sperdatum aangedui het waarbinne daar aan die bevel voldoen moes word nie. Die Hof het ook hierdie betoog van die hand gewys en bevestig dat sperdatums gewoonlik deur 'n hofbevel voorgeskryf word hoofsaaklik om die bewyse van nie-nakoming daarvan, te vergemaklik. Die Hof was voorts van mening dat die Respondent se openlike verklaring van voorneme was dat daar nie aan die bevel voldoen sou word nie, inderdaad voldoende bewys is van ‘n opsetlike nie-nakoming en dat dit dus nie nodig is om vas te stel of daar 'n redelike tyd verloop het sedert die hofbevel uitgereik was nie.
Die grondslag van die Respondent se betoog, waarom hy nie in minagting van die hofbevel opgetree het nie, was dat hy nooit die bedoeling gehad het om minagtend teenoor die hofbevel op te tree nie, maar dit in vooruitsig gestel het om ex post facto die onwettige optrede te wettig deur die twee erwe te konsolideer en goedkeuring van sy hersonering-aansoek.
Die Hof kom egter tot die gevolgtrekking dat Respondent inderdaad in minagting van die hofbevel opgetree het, aangesien die geïmplementeerde strategieë nie gestrook het met enige billike interpretasie van die hofbevel nie. Die hof het daarop gewys dat die bevel, as behoorlik geinterpreteer word, inderdaad bepaal, dat 'n sloping moet plaasvind en nie slegs mag plaasvind nie.
Die hof het voorts bevind dat die Respondent en sy direkteure doelbewus nie die hofbevel nagekom het nie en 'n oneerlike strategie gebruik het om die nakoming van die bevel te omseil en gevolglik die Hof geminag.
In oorweging of daar wel 'n grondslag bestaan dat die Hof aan die Respondent 'n geleentheid moes bied om as vonnisskuldenaar aansoek te doen om die bevel van die Appèlhof te verander, is daar bevind dat indien toegelaat sou word dit sal lei tot retrospektiewe verskoning van die minagting wat plaasgevind het. In hierdie verband moes die Hof eerstens vasstel of dit gepas sou wees vir die Respondent om vooraf 'n variasie te versoek, maar ook bevind dat dit geheel en al in stryd sou wees met die doel waarom die bevel in die eerste plek toegestaan was. Alhoewel variasie aansoeke van tyd tot tyd wel toegestaan kan word in gevalle waar nakoming van 'n bevel onmoontlik sou wees, of waar voldoening daarvan teen die openbare belang kan wees, kan sodanige aansoeke nie toegestaan word bloot omdat die nakoming daarvan finansieel nadelig vir die Applikant sou wees nie. Die Hof het voorts bevind dat 'n aansoek om die terugtrekking van die bevel van die Appèlhof eenvoudig sou toelaat dat 'n onwettige poging tot voldoening, dan as 'n voldonge feit aanvaar sou word, wat die beginsel van geregtigheid duidelik sal ondermyn. Die Hof het bevind dat die toelaat van enige sodanige aansoeke die indruk sou skep dat eiendomsontwikkelaars wette en regulasies, willens en wetens, sonder aanspreeklikheid daarvoor, sou kon ignoreer.
Die respondent is derhalwe beveel om ten volle aan die Appèlhof se bevel te voldoen deur:
- die slopings-planne binne 30 dae vir goedkeuring by die betrokke owerhede in te dien, en
- 'n ingenieur aan te stel om die gedeeltelike sloping goed te keur en te sertifiseer dat dit veilig en nie-skadelik vir die strukturele integriteit van die gebou sal wees nie, en
- ook te verseker dat die gebou na sloping, nie meer as die voorgeskrewe 60% van die voormalige erf dek nie;
- om voldoende parkeerplek vir die gebou te verskaf;
- te verseker dat die gedeeltelike sloping van die gebou binne 90 dae van die datum van die bevel.
- Daarbenewens is meneer Slim tot 30 dae gevangenisstraf gevonnis, welke vonnis geheel en al opgeskort is hangende die nakom van bogenoemde bevele.
Die baie duur les wat meneer Slim moes leer en waaruit ons almal kan leer, was om nooit die reg in eie hande te neem nie, ongeag of die beplande uitkoms in jou opinie regverdig sou wees.
Groete en Beste Wense / Greetings and Best wishes
Hennie, Eberhard & Cheryl-Anne
Direkteure | Directors
*READAM SA (PTY) LTD V BSB INTERNATIONAL LINK CC AND OTHERS 2017 (5) SA 184 (GJ); [2017] 2 ALL SA 902 (GJ)
|
|
|